|

Groot verandering dringend nodig by NSFAS

Groot veranderinge moet by die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS) plaasvind meen die burgerregtewaghond AfriForum se jeugvleuel.

Dít kom nadat NSFAS Maandag in ʼn verklaring die bedanking van sy huidige uitvoerende beampte, Msulwa Duca, aangekondig het.

Sizwe Nxasana, wat tans dien as voorsitter van dié fonds, sal vanaf 31 Maart (tot verdere kennisgewing) verantwoordelik wees vir alle noodsaaklike uitvoerende besluite.

Volgens AfriForum Jeug, wat reeds by verskeie geleenthede hul kommer oor NSFAS se interne bestuur uitgespreek het, is dit van wesenlike belang dat die nuwe uitvoerende beampte druk op gegradueerde studente moet plaas om geld wat aan die fonds verskuldig is terug te betaal, eerder as om meer geld van die regering te eis.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het verlede jaar aangekondig dat die regering sowat R2,5 miljard opsy gesit het om studente wie se ouers of voogde ʼn huishoudelike inkomste van minder as R600 000 per jaar verdien, asook alle studente wat vir die NSFAS kwalifiseer, te subsidieer om die gaping tussen 2015 se klasgeld en die aangepaste bedrag vir 2017 by hul universiteit te dek.

Volgens AfriForum Jeug is verdere subsidiëring nie ʼn volhoubare oplossing nie, omdat die terugbetaling van studentelenings sedert 2009 dramaties gedaal het. Die koers van invordering van studenteskuld was voorheen sowat 28% van die jaarlikse besteding aan studentelenings, maar luidens mediaberigte het dit nou tot minder as 4% geval.

“Die fonds het vanjaar reeds meer as 160 000 studente vir subsidiëring goedgekeur. Hulle sal nie in die toekoms kan funksioneer as slegs 4% van dié studente hul studiegelde terug betaal nie,” meen Jaco Grobler, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Verder sê Grobler dat die fonds se keuringsmeganismes ook aangepas moet word.

“Studente hoef nie eens hul registrasiebewys aan te heg om aansoek te doen vir ʼn NSFAS-lening nie. Dit dui daarop dat hul nie genoeg fokus op akademiese meriete in hul keuringsproses nie.”

Volgens AfriForum Jeug moet studente eerder deur gemeenskapsgebaseerde organisasies befondsing soek.

“Solidariteit Helpende Hand se studiefonds het ʼn terugbetalingskoers van 98%, wat beteken dat die fonds op ʼn volhoubare manier finansiering vir studente kan bied. Die NSFAS, wat die vermoë het om vir duisende studente finansiering te bied, moet daarna streef om dieselfde te doen,” meen Grobler.

Soortgelyke plasings