|

Grootste veldtog nog kom teen plaasmoorde

Capture.JPG 20

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag een van die mees omvattende veldtogte nog teen plaasmoorde aangekondig.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die regering en polisie wyer die afgelope paar jaar om iets aan hierdie krisis in die land te doen. 

Sedert die begin van die jaar was daar meer as 160 plaasaanvalle waarin sowat 50 mense vermoor is.

Roets het gesê dit is skreiend as gekyk word hoe die regering die afgelope week die #Feesmustfall-veldtog en studente-protesoptrede ondersteun het, maar wanneer dit by mense kom wat wreed vermoor word, weier die regering om iets daaraan te doen.

Die omvattende veldtog behels onder meer dat November as nasionale maand van protes teen plaasmoorde verklaar word.

Verskeie aksies gaan plaaslik en internasionaal aangepak word. AfriForum wil die publiek ook mobiliseer om hul stem by die protes te voeg. Die verwagting is om meer as 100 000 stemme binne die volgende drie weke te werf wat by die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word.

Roets het ook aangekondig dat AfriForum ’n hofaansoek teen die SAPD gaan bring om hulle te dwing om hul statistiek oor plaasmoorde bekend te maak. AfriForum vra reeds geruime tyd dat die polisie moet verduidelik hoe die misdaadstatistiek bereken word. “Die polisie weier om vir ons te sê hoe hulle by die syfers uitkom.”

Roets het ook verwys na die wrede moord op die Potgieter-gesin van Lindley sowat 5 jaar gelede. “Hoewel die regering die moorde in die media betreur het, is dit vandag duidelik dat dit vir hulle geen prioriteit is nie. Honderde mense, sommige op die wreedste denkbare maniere, is sedertdien op plase vermoor en steeds swyg die regering.”

Hy het gesê dit is om dié rede dat die veldtog ook internasionaal geneem word. ’n Verslag wat deur AfriForum opgestel is oor die omvang van plaasmoorde en die impak daarvan op gesinne en gemeenskappe sal aan 300 internasionale joernaliste, wat vanuit Suid-Afrika werk, sowel as 5 000 in die buiteland gestuur word. Dit sal gedoen word op dieselfde dag wat AfriForum sy voorlegging aan die VN maak.

Op 1 Desember 2015 sal AfriForum saam met slagoffers ’n mosie van wantroue in die regering se vermoë om plaasmoorde te beveg by die president se kantoor indien.

Lede van die publiek wat hul name by die protesbrief wil voeg wat by die VN ingehandig sal word, kan dit by www.stopdiemoorde.co.za doen. ’n SMS met jou naam kan ook gestuur word na 32534. R1

 

Soortgelyke plasings