|

Groter druk op regering nodig om boere te beveilig; boere moet hulself bewapen

 

Boere moet hulself binne die raamwerk van die wet toerus en bemagtig om hulself teen plaasmoorde en –aanvalle te beskerm aangesien die regering en polisie nie by magte is om dit te doen nie én omdat die landelike veiligheidstrategie nie werk nie.

Dit beteken dat boere hulself op ’n verantwoordelike wyse mag bewapen om hulself en geliefdes te beskerm. En terwyl hulle dít doen, moet groter druk op die regering plaaslik en internasionaal geplaas word om hul plig na te kom om die gemeenskappe en landgenote in die algemeen te beveilig.

Só sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum. Die burgerregtewaghond en die familieboerderyorganisasie Saai het vandag die statistieke vir plaasmoorde en –aanvalle vir 2019 in Centurion bekend gemaak.

Altesame 57 moorde en 552 plaasaanvalle het in 2019 plaasgevind.

Dié syfers dui daarop dat Suid-Afrika steeds ’n plaasaanval-epidemie ervaar, maar dat boere meer weerbaar word.

Uit die data wat AfriForum ingesamel het, blyk dit dat plaasaanvalle verlede jaar met meer as 100 gevalle toegeneem het, maar die hoeveelheid plaasmoorde het ’n laer toename gehad (drie gevalle).

Volgens Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis, was daar 552 plaasaanvalle in 2019 teenoor 2018 se 433 gevalle. Dit is ’n toename van 27%. “Byna 1 000 mense was slagoffers in hierdie 552 plaasaanvalle. In 2019 was daar 57 plaasmoorde, en hoewel elke plaasmoord ’n tragedie is, is dit slegs drie meer as in 2018. Die Vrystaat is die provinsie met die meeste getal moorde (11), terwyl 30% van die plaasaanvalle in Gauteng plaasgevind het.”

Cameron sê data bewys dat landelike gemeenskappe besig is om terug te baklei en meer weerbaar te word. “Die landelike veiligheidstrategie werk nie en mense is siek en sat om te wag dat die regering hulle in tye van nood te hulp moet stel.”

Volgens Cameron dui die reusestyging in plaasaanvalle in 2019 daarop dat die  polisie nie die vermoë of kapasiteit het om geweldsmisdaad op plase af te weer nie. Dít beteken dat jy in ’n gewelddadige plaasaanval heel moontlik op jouself aangewese gaan wees. AfriForum het vir hierdie doel 150 gemeenskapsveiligheidstrukture (met meer as 12 000 aktiewe veiligheidslede) landwyd op die been gebring wat saamwerk. AfriForum bied ook veiligheidsopleiding aan sy lede om hulle meer weerbaar te maak. As jy jouself kan verdedig, kan jy jou gesin verdedig; as jy jou gesin kan verdedig, kan jy jou bure verdedig; wanneer bure mekaar verdedig, verdedig hulle hul gemeenskap,” sê Cameron.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en ook die president van die Wêreldlandbou-organisasie, is dit gevaarliker om ’n boer as ’n polisiebeampte in die land te wees.

Hy het gesê geen ander groep in die land word só geteiken as uitsprake soos Kill the Boer gemaak word nie. En in geen ander gedeelte van die samelewing of in landelike gebiede gaan moorde met dieselfde marteling en brutaliteit as op boere gepaard nie. Hierdie is ook nie ’n rasgebaseerde ding nie. Boere van alle rasgroepe het dieselfde probleem, meen De Jager.

Hy het gesê daar is ook kommer oor die toename in aanvalle op plaaswerkers. “Dit is noodsaaklik dat elke familie op ’n plaas ’n gebeurlikheidsplan moet hê en moet weet hoe hulle moet reageer en wat hulle moet doen wanneer daar ’n aanval is. Dis nie ’n probleem net vir die boeregemeenskap nie. Die hele gemeenskap moet betrokke raak. Daar moet ook baie meer druk op die regering geplaas word om spesiale eenhede op die been te bring en plaasmoorde en –aanvalle as prioriteitsmisdaad te hanteer.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die mediakonferensie ook verwys na ’n afvaardiging van AfriForum wat tans in die VSA is met ’n veldtog #DieWêreldMoetWeet om die media, meningsvormers, politici en ander rolspelers in te lig oor wat in die land aan die gang is. “Die regering is besig om die land op die verkeerde pad te vat en ons moet soveel druk moontlik op hulle plaas. Daarom moet beleggers ook in die lig van voorgestelde beleide soos onteiening sonder vergoeding ingelig word oor wat op hulle wag indien hulle hier sou belê.”

Kriel het gesê Zimbabwe se onteiening sonder vergoeding het nie net die 4 500 boere van dié land verdryf nie. Die hele land is ten gronde met werkloosheid wat hoër as 90% is, voedsel- en brandstoftekorte en groot armoede.

Kriel het ook verwys na Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, wat vandag in Addis Ababa ook gewaarsku het teen die Suid-Afrikaanse regering se planne rondom onteiening. “Planne om private grond sonder vergoeding in Suid-Afrika te onteien sal ramspoedig vir die ekonomie en die mense van Suid-Afrika wees,” het Pompeo gesê.

Claasen het gesê hoewel die polisie die afgelope paar jaar statistieke oor sowel plaasaanvalle as -moorde begin bekendmaak het, bly dit belangrik dat organisasies soos AfriForum aanhou om inligting oor plaasaanvalle en -moorde in te samel sodat die SAPD en die regering verantwoordbaar gehou kan word.

 

Soortgelyke plasings