|

Gryp geleentheid aan en doen aansoek vir noodfinansieringspakket

Die COVID-19-pandemie gaan katastrofiese gevolge vir die land se ekonomie en verskeie ondernemings inhou.

Die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler bereken dat tot 1,6 miljoen poste in die formele sektor en ’n verdere 1,5 miljoen in die informele sektor weens die pandemie verlore kan gaan. Einde Desember het 10,2 miljoen mense in die formele sektor gewerk, maar Schüssler verwag dat ná ’n maand van nasionale inperking 1,67 miljoen poste teen die einde van die tweede kwartaal verlore kan wees.

As burgerregte-organisasie is AfriForum diep bekommerd oor die impak wat die gebeure op die land, die ekonomie en gemeenskappe gaan hê.

Daarom het die organisasie kapsie gemaak en regstappe oorweeg nadat dit aan die lig gekom het dat die regering dit oorweeg om ondernemings op grond van ’n swartbemagtigingsgrondslag finansieel by te staan. Die regering en verskeie ministers het daarna teruggekrabbel en dié omstrede regulasies, wat uitgelek het, as fopnuus afgemaak.

AfriForum moedig alle klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) aan om môre (2 April) hul aansoeke vir die regering se noodfinansieringspakket in te dien. Ondernemings moet by www.smmesa.gov.za geregistreer wees om te kan aansoek doen. AfriForum nooi besighede ook uit om hul name te lys om die nuutste inligting oor die aansoekprosedure te ontvang.

Besoek https://forms.gle/fyYiEgK6WLo7FEir9

In AfriForum se stryd teen die bevoordeling van ondernemings op grond van ras, ouderdom, geslag en gestremdhede is ’n aanmaningsbrief aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, geskryf om die voorgestelde bepalings vir verligting vir ondernemings in die toerismebedryf te skrap.

Kubayi-Ngubane het aangedui dat aansoeke om finansiële hulp tydens die COVID-19-pandemie in die toerismesektor op ’n swartbemagtigingsgrondslag gedoen sal word. Leweringsmeganismes vir die verspreiding van verligting wat gepubliseer is, sluit in:

  • 70% van die ondernemings moet in swart besit wees;
  • 50% van die ondernemings moet deur vrouens besit word;
  • 30% van die ondernemings moet deur jeug besit word; en
  • 4% van die ondernemings moet deur persone met gestremdhede besit word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit behoort nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie. “Al die ondernemings wat deur hierdie pandemie geraak word, dra by tot die ekonomie en skep direk of indirek werk in ’n land waar dit broodnodig is. Nood diskrimineer nie, en die regering behoort ook nie.

“In hierdie krisistyd behoort almal saam te staan teen ons gemeenskaplike vyand, COVID-19.”

AfriForum het Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling en haar departement, ook vroeër op terme geplaas om ’n skriftelike onderneming te gee dat ras op geen wyse enige rol sal speel in hulpverlening aan ondernemings wat by die regering aansoek doen nie.

Solidariteit het intussen ook ʼn dringende aansoek op die presidensie en verskeie ministeries beteken om duidelikheid oor spesifikasies te eis rakende die voorvereistes wat aan KMMO’s gestel word om vir befondsing te kwalifiseer. Die saak is geskeduleer om op 28 April in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor te word.

Solidariteit het ook op 25 Maart ʼn klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die regering se planne om die toestaan van krisisbefondsing aan KMMO’s aan swart ekonomiese bemagtiging onderhewig te maak.

“Dit is nie nou die tyd om hulp aan klein besighede wat in nood verkeer as ʼn blote rasse-som te verreken nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se arbeidsregsdienste.

Soortgelyke plasings