|

#HardloopvirHoop: Bennie Roux sluit sy wedloop af

Die ultramaratonatleet Bennie Roux (41) het sy hardloopprojek – van meer as 220 km deur die Vrystaat – vandag by die Oranje Gasteplaas tussen Fouriesburg en Clarens afgesluit. Roux het ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid gehardloop om geweldslagoffers – veral slagoffers van plaasaanvalle en -moorde – te ondersteun.

Roux en die ander atlete het vandag 17 km afgeleê. Hulle het om 12:00 by die Oranje Gasteplaas se Roosfees aangekom en die dag saam met die feesgangers geniet.

“Ek wou met hierdie projek bewusmaking oor plaasmoorde en -aanvalle skep en ook die erns van die trauma wat met hierdie gruwelmisdade gepaardgaan aan die publiek oordra. Ons het die plase besoek van slagoffers wat só ‘n tragedie oorleef het en met hulle gesels. Hierdie projek het net weer eens die dapperheid geopenbaar van diegene wat plaasaanvalle moes deurmaak. Dit was egter ook weer ’n wekroep dat plaasaanvalle daadwerklik beveg moet word en ek hoop dat ons projek daartoe bygedra het,” sê Roux.

“AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid is stomgeslaan deur die publiek se ondersteuning, asook al die skenkings wat ons ontvang het. Hierdie projek het weer eens bewys dat ons mense vir mekaar omgee – daar is hoop waar ons saamstaan om ’n verskil te maak. Plaasaanvalle en -moorde is ’n krisis wat elkeen van ons raak, want ons almal is van boere afhanklik,” sê Johan Kloppers, #HardloopvirHoop-woordvoerder van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat die feesvieringe bygewoon en feesgangers toegespreek het, sê dat Bennie en sy span se opoffering inspirerend is en hoop gee. “Hierdie projek is ’n voorbeeld van mense wat bereid is om hul talente aan te wend om ’n groter saak te dien. As elkeen van ons soos Bennie en sy span ons roeping uitleef en ons onderskeie gawes op verskillende terreine aanbied om krisisse in ons samelewing te pak, is geen uitdaging onoorkombaar nie.”

Mense kan steeds skenkings aan AfriForum se Trauma-ondersteuningsfonds maak:

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Trauma-ondersteuningsfonds

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Kontak trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

 

AfriForum wil die volgende borge bedank vir hul ongelooflike bydra tot ons veldtog:

Gastehuise:
Naguiltjie Gastehuis (Villiers); Poelanie’s Gastehuis (Reitz); Lavender Hill Country Estate (Bethlehem); Forget-Me-Not Gastehuis (Bethlehem).

Ondernemings:
Potato Pride; Ensign Storage Solutions; Romans Pizza (Bethlehem); InteliGro; AgriSeker Onderskrywingsbestuurder; Raman Dhaya Wholesalers; Niin’s Health and Skin Care (Bethlehem).

Fisioterapeute:
Lindie van Tonder (Reitz); Laura Naudé (Reitz); Martine Janse van Rensburg (Fouriesburg); Sanette Corbett (Fouriesburg).

Skole:
Hoërskool Witteberg; Hoërskool Reitz; Hoërskool Wilgerivier; Bambi Kleuterskool; Fouriesburg Intermediêre Skool.

Donasies:
JJB Bester van Niekerk Boerdery; AfriForum Finansies; Kritzinger van Bethlehem.

Soortgelyke plasings