Hatherley-vullisterrein slaag oudit na volgehoue druk deur AfriForum


AfriForum het die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi op 4 Oktober vanjaar geoudit en bevind dat dit inderdaad vrugte afwerp om druk op munisipaliteite te plaas. Dié vullisterrein het in 2016 volgens AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditverslag aan slegs 16% van die minimum vereistes voldoen, maar vanjaar het dit ‘n handomkeer prestasie van 80% behaal.
Dié oudit vorm deel van ‘n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word.

“AfriForum het die Hatherley-vullisterrein na afloop van verlede jaar se ouditverslag in samewerking met die departement van omgewingsake en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit vir rehabilitasie geteiken. Hatherley is een van die belangrikste vullisterreine in Tshwane en dit is daarom van kardinale belang dat dit ‘n lang leeftyd het. Dit is verblydend om te sien dat AfriForum se druk ‘n positiewe uitwerking tot gevolg gehad het. Ten spyte van baie uitdagings wat die vullisterrein in die gesig staar, het hulle aansienlik beter gevaar in ons oudit vanjaar,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.
“Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008) moet ‘n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen wat toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining, rehabilitasie en dies meer betref. ‘n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen, wat die Hatherley-vullisterrein wel vermag het. Dié ommekeer is bewys dat daar nog mense in die munisipaliteit is wat vir die omgewing en die beskerming en rehabilitasie daarvan omgee,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distriksko ördineerder vir Gauteng.

Raak by hierdie AfriForum-inisiatief in Tshwane betrokke deur ‘n e-pos na lambert@afriforum.co.za te stuur, of “Omgewing” na 45341 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings