|

Heilbron-tak bekommerd oor brandseisoen

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 25 Mei 2020 ’n skrywe aan Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, gestuur om te vra dat daar dringend aandag gegee moet word aan die feit dat Heilbron nie ’n brandweerwa het nie.

“Die herfs- en wintermaande is brandseisoen – wat die dringende behoefte aan ’n brandweerwa selfs nóg meer beklemtoon. Verder is daar ook nie ’n noodvoertuig óf die regte toerusting om mense onder meer by ongelukstonele by te staan nie en moet daar op buurdorpe se hulp staatgemaak word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Volgens Danie Knoetze, voorsitter van AfriForum se Heilbron-tak, het dié dorp al vir sowat agt maande nie ’n brandweerwa nie. Die bakkie wat glo as brandweerwa gedien het, staan by ’n werktuigkundige in Heilbron en sal na raming sowat R65 000 kos om te herstel.

“Die feit dat Heilbron nie ’n brandweerwa het nie, hou ’n groot risiko vir die dorp se inwoners in en kan verreikende gevolge hê sou daar ’n brand ontstaan. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid teenoor elke lid van die gemeenskap en versuim tans om dié verantwoordelikhede na te kom.”

AfriForum doen ’n beroep op lede van die gemeenskap wat die regte brandbestrydingstoerusting het, om dié toerusting in noodgevalle beskikbaar te stel. Bereidwilliges kan Knoetze by 082 974 0055 kontak.

Soortgelyke plasings