|

Helpende Hand begin klasaksie oor gestremde pasiënte

Solidariteit Helpende Hand het vandag ’n klasaksiegeding teen die departement van gesondheid van stapel gestuur nadat prof. Malegapuru Makgoba, ombudsman oor gesondheid, verlede week sy bevinding rondom die dood van minstens 94 psigiatriese pasiënte bekendgemaak het.

Hulle is dood is nadat hulle van die Life Esidimeni-geriewe na ongeregistreerde nieregeringsorganisasies oorgeplaas is.

Volgens Tertius Kruger, Helpende Hand se regsverteenwoordiger, is hierdie klasaksiegeding ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika en sal dit ook ’n waterskeidingsaak wees wat die staat ernstig tot verantwoording sal roep oor sy verpligtinge.

Adv. Jacques Basson het verduidelik dat die organisasie regstappe gaan volg wat daartoe sal lei dat die hof ʼn verklaring moet uitreik waarin aangedui sal word hoe die slagoffers se regte geskend is.

Volgens dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand, is die organisasie reeds maande lank met die Gautengse departement van gesondheid in ’n hofgeding oor die versorging van gestremde pasiënte by die Cullinan Versorging en Rehabilitasie Sentrum ná die dood van twee pasiënte in Julie 2016. ʼn Dringende hofaansoek is gebring wat van die hand gewys is.

Pasiënte in dié sentrum was vantevore onder die sorg van Siyabadinga, ’n nieregeringsorganisasie naby Cullinan, wat hulp by Helpende Hand gevra het.

Volgens Diane Moyile, die bestuurder van Siyabadinga, was hul sentrum alleenlik verantwoordelik vir die pasiënte se versorging en medikasie en het hul geen subsidies van die staat ontvang nie, behalwe die SASSA-toelaes van 16 van dié pasiënte. Die nodige papierwerk is ook nie deur die departement afgehandel nie en pasiënte is gevolglik sonder mediese agtergrond oorgeplaas in dié organisasie se sorg.

Na Helpende Hand se ondersoek het dit ook geblyk dat die departement ook nie die regmatige prosedures gevolg het om Siyabadinga aan te stel nie, ten spyte van die feit dat toelaes aan hulle oorbetaal is.

Hermann is van mening dat die pasiënte in die sorg van nieregeringsorganisasies oorgeplaas is sonder dat die departement van gesondheid genoegsame voorbereiding getref het vir die oorplasings wat deur die departement gemagtig is. “Die regering het die mees kwesbare mense in ons land in die steek gelaat. Ons wil name vir die nommers gee.”

Hy meen die verval van die staat is aan die wortel van hierdie tragedie en Helpende Hand sal nie langer toekyk hoe onskuldige Suid-Afrikaners weens onbekwaamheid en ondeurdagte besluite ly nie.

Twee van die afgestorwenes se familielede het hul ervarings tydens die konferensie gedeel. Volgens Miriam Monyane (60), wie se seun Thabo in Augustus verlede jaar oorlede is, moet daar dringend ingetree word om pasiënte wat steeds lewe se omstandighede te verbeter.

“Hulle kan nie vir hulself praat nie, so ons moet dit namens hulle doen.”

Volgens die burgerregte-organisasie AfriForum is die ANC-regering dit aan die slagoffers van dié tragedie verskuldig om die impak van kaderontplooiing, regstellende aksie en swart bemagtiging op staatsfunksies te ondersoek.

Die organisasie meen die impak hiervan op die openbare gesondheidsektor moet in besonder ondersoek word.

AfriForum het hierdie beroep verlede week in ’n skrywe aan pres. Jacob Zuma, Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, en Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gerig nadat dit aan die lig gekom het dat 94 psigiatriese pasiënte weens ontwatering, diarree, epilepsie, hartaanvalle en moontlike ander redes gesterf het.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, voer aan dat kaderontplooiing, regstellende aksie en swart bemagtiging ’n destruktiewe uitwerking op die werk van alle staatsdepartemente het.

“Die regerende party moet homself afvra hoe ver hy sal gaan om hierdie destruktiewe beleid te implementeer,” sê Roets.

 

Soortgelyke plasings