Herstel van Dr. Ferdi Hartzenbergweg in Lichtenburg

Geaffekteerde pad: Dr. Ferdi Hartzenbergweg wat Dr. Beyers Naudérylaan word vanaf die Total-vulstasie.

’n Gedeelte van Dr. Ferdi Hartzenbergweg – vanaf die Zeerust T-aansluiting verby die DBV en die industriële gebied tot en met die vierrigtingstop naby die plaaslike verkeerskantore – benodig dringende herstelwerk. Dié pad is besig om ’n nadelige uitwerking te hê op inwoners van Retiefs Park en omliggende gebiede, waaronder die Hoërskool Lichtenburg, die DBV, die veeartsenykundige hospitaal en die CVO Skool Lichtenburg, weens die stof en geraas wat die vragmotors wat van die vervalle pad gebruik maak, veroorsaak. Vragmotormaatskappye in Lichtenburg maak gereeld die pad gelyk deur gruis te gebruik om dit sodoende meer rybaar te maak. Dít veroorsaak egter ’n geweldige hoeveelheid stof in die gebied en lei gevolglik tot gesondheidsverwante kwessies soos irritasie van die oë, ’n gehoes, ’n genies, hooikoors en asma-aanvalle. Inwoners van die gebied kan ook nie hul deure of venters oopmaak nie weens die stof, terwyl kinders nie eens buite kan speel nie as gevolg van die stofbesoedeling.     

Geaffekteerde gebiede: Retiefs Park Uitbr. 3 (Abrina), Retiefs Park, Hoërskool Lichtenburg, CVO Skool Lichtenburg, die DBV en die veeartsenykundige hospitaal.

Help AfriForum om hierdie pad te herstel deur jou naam by die petisie te voeg wat aan die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit oorhandig sal word om sodoende te verseker dat fondse daartoe geallokeer sal word om hierdie probleem op te los.

Soortgelyke plasings