|

Só het AfriForum Gemeenskapsveiligheid en vrywilligers vanjaar gemeenskappe gedien

Deur Ian Cameron

Albert Schweitzer, bekende skrywer en filosoof, het geglo “die doel van ons menslike bestaan op aarde is om te dien, om medelye te betoon en die wil te hê om ander te help”.

Ek kan getuig van ’n jaar waar duisende AfriForum Gemeenskapsveiligheidslede gedien het.

Die lede het meer as 1,4 miljoen man-ure afgelê tydens duisende patrollies wat regdeur die jaar gehou is om gemeenskappe meer weerbaar te maak.

Die jaar het afgeskop met die beveiliging van Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar chaos gedreig het wat deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, aangevuur is met sy beoogde beleid om Afrikaanse skole te verengels.

AfriForum het vanjaar ook sy Trauma-eenheid uitgebrei wat met baie min, baie reggekry het.

Honderde slagoffers van hoofsaaklik plaasaanvalle en ander geweldsmisdade is deur die slagofferondersteuningspan bygestaan en ondersteun. In Oktober 2018 het ’n handjievol slagofferondersteuners meer as 63 sake gehanteer en meer as 97 slagoffers is bygestaan wat veral deur plaasaanvalle en –moorde geraak is.

Meer as 130 sake is deur dié eenheid aangepak. Daar was die Engelbrecht-, Schoonraad-, Booysens-, Bultermann-, Bluhme-, Reynecke-, Cross- en Botha-families en gesinne wie se lewens onherroeplik verander is deur plaasaanvalle en –moorde. Dít is maar enkele van die families wat deur hierdie wrede en tragiese omstandighede geraak is.

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het ook vanjaar sowat 2 000 gemeenskapsveiligheidslede opgelei en vanaf 2019 gaan dit ’n groter prioriteit in die afdeling wees.

AfriForum 911 Trackbox is ook amptelik geloods en sedertdien word sowat 350 voorvalle per maand vanuit die nuutgevestigde AfriForum 911 Gemeenskapsveiligheidsentrum gehanteer.

AfriForum 911 bedien tans 25 000 gebruikers wat in slegs sewe maande betrokke geraak het. Dit vorm die noodsteunfondasie van AfriForum Gemeenskapsveiligheid in die land.

Die AfriForum 911 lugvleuel is ook begin en ’n netwerk van talle lugvaartkundiges is betrek om beter bystand aan gemeenskappe tydens noodgevalle en onrus te bied. Dit sluit ook die dienste van verskeie opgeleide kommersiële hommeltuig-operateurs regoor die land in.

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het ook vanjaar verteenwoordigers van internasionale mediahuise uit die VSA, VK, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Australië, Turkye, Skandinawië en Suid-Amerika ontvang en vergesel tydens tientalle besoeke aan plaasaanvalslagoffers en na tonele asook tydens patrollies wat gehou is.

Dit vorm deel van AfriForum se internasionale veldtog om wêreldwye steun teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding te werf. AfriForum Gemeenskapsveiligheid het ook ’n besoek aan Australië gebring waar die Wes-Australiese parlement in Perth toegespreek is oor plaasmoorde.

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het ook ’n nasionale radionetwerk suksesvol ingestel wat die eerste van sy soort is en AfriForum tans ’n gemeenskapsveiligheidsleier maak wat nasionale radiokommunikasie betref. Duisende radio’s word deur AfriForum gebruik om gemeenskappe in staat te stel om nie net in nood te kan kommunikeer nie, maar om pro-aktiewe kommunikasievermoë te skep vir gemeenskappe om mekaar te ondersteun en veilig te hou.

Voort het AfriForum Gemeenskapsveiligheid gemeenskappe gehelp om hoop te skep. Hulle besef nou hul eie vermoë en wat dit verg om ’n verskil te maak.

Altesame 137 trio-misdaadverdagtes (huisrooftogte, motorkapings en gewone rooftogte) is deur AfriForum Gemeenskapsveiligheid in samewerking met die polisie gearresteer.

AfriForum se veiligheidstrukture het met sowat 230% in 2 jaar gegroei en met 400% wat betrokkenheid van veiligheidslede betref.

Ek wil vir elke AfriForum Gemeenskapsveiligheid-, buurtwag-, en plaaswaglid, polisiebeampte en sekuriteitsbeampte bedank vir ’n jaar waarin ons kon dien en kon help bou aan ’n toekoms wat hoop skep.

Soortgelyke plasings