|

HIDROBREKING: AFRIFORUM EN TKAG TEIKEN SKALIEGASPLANNE

AfriForum en Treasure the Karoo Action Group is besig om kommentaar saam te stel op die Departement van Water en Sanitasie se konsepregulasies vir die opsporing en ontwikkeling van aanlandse onkonvensionele gasontwikkeling. Dié regulasies in op 7 Mei in die Staatskoerant gepubliseer.

Lambert De Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, sê dat AfriForum en sy jarelange omgewingsakevennoot Treasure Karoo Action Group sal voortgaan om die ontginning van skaliegas in die Karoo teen te staan. “Ons het aan die Departement geskryf  om ’n verlenging van die 30 dae periode vir openbare kommentaar te versoek, veral weens die kompleksiteit van die verslag wat deur tans deur ons span kundiges saamgestel word,” sê De Klerk.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê dat TKAG ’n bewese baanrekord het wat betref sukses wat dit al teen die regering oor sulke regulasies behaal het. Die onlangsste is ’n eenparige uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl teen die Departement van Minerale Hulpbronne. “Na ons mening is dit kortsigtig om ’n stel tegniese regulasies met bloot ’n 30 dae-venster vir openbare kommentaar te publiseer. Om dit boonop midde-in ’n ramptoestand te doen wanneer selfs meer inperkingsregulasies die land in die gesig staar, stel ten beste ’n arrogansie teenoor deeglike openbare deelname voor.”

Deal voeg by dat ontwikkelings ’n wekroep moet wees vir enigeen wat naby moontlike skaliegasontginningsmyne woon, kinders grootmaak en saai- asook ander boerderye en toerismegefokusde sakeondernemings bedryf.

In ag genome die geskiedenis in die VSA en die uiteindelik verbod op hidrobreking in die staat van New York en die Delaware-rivierkom, is daar oorgenoeg rede waarom dit ook in Suid-Afrika verbied behoort te word.

De Klerk moedig bekommerde burgers aan om vir hul reg op ’n gesonde omgewing op te staan en by AfriForum aan te sluit en dié organisasie en TKAG ondersteun.

Soortgelyke plasings