|

Hoe onpartydig is regter wat ten gunste van US-taalbeleid-afwyking bevind?

Stellenbosch-University-700x250

Terwyl AfriForum Jeug wag op ʼn hofuitspraak rakende die omstrede saak oor die Universiteit van Stellenbosch (US) se taalbeleid, het ʼn onafhanklike ondersoekbeampte bevind die US het in die belang van al sy studente se grondwetlike regte tot onderwys opgetree deur van sy taalbeleid af te wyk.

Die US het in Maart  ʼn kommissie van ondersoek aangestel om die instelling se onlangse toepassing van die taalbeleid te ondersoek. Craig Howie, afgetrede regter-president van die appèlhof, is as kommissaris aangestel en het op 29 Maart met sy ondersoek begin.

AfriForum Jeug en die US het op 15 April buite die Kaapse hooggeregshof ooreengekom om mekaar weer op 19 Mei 2016 in die hof te sien oor dié taalstryd waarby die partye betrokke is.

Dit kom nadat AfriForum Jeug hom vir die derde keer tot die Kaapse hooggeregshof gewend het oor die onregmatige hersieningsproses van die universiteit se taalbeleid. Die US het ʼn vroeëre ooreenkoms met AfriForum Jeug verbreek deur met die hersieningsproses van die taalbeleid voort te gaan sonder om die proses met die organisasie te bespreek.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bevraagteken regter Howie se onpartydigheid.

“Vir my is die kernargument teen sy verslag se bevinding. Hoe kan jy sê dat die US se optrede in iemand se belang is wanneer dit ander ontneem van hulle regte. Om nou te sê maar jy gee vir meer mense toegang, terwyl ander uitgesluit word, beteken jy boer agteruit.”

Bailey sê voorts AfriForum hoop dat daar ʼn regverdige uitspraak sal wees volgende week. Die voortdurende ondergrawing van Afrikaans aan die US pla haar egter. “Dit voel asof die US hul spelreëls die heeltyd verander.”

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, sê regter Howie se verslag dui daarop dat die afskaffing van die huidige taalbeleid sal indruis teen die universiteit se verpligting om vir elke student sy grondwetlike reg tot moedertaalonderrig te gee. Mostert sê luidens die verslag moet daar ook baie goeie kommunikasie tussen die raad en bestuur wees en die bestuur moet seker maak dat hulle binne hul bevoegdhede optree.

“Die raad is die wetgewende gesag wat beleide moet opstel, terwyl die uitvoerende gesag by die bestuur lê. Maar by die US inisieer die bestuur prosesse wat hulle eintlik nie gemagtig is om te doen nie.”

Mostert sê hoewel dit duidelik is dat regter Howie moeite gedoen het om insette van partye van albei kante van die argument te kry, is daar nie ʼn direkte feitestel in die verslag nie. Dit blyk ook dat daar baie teenstrydighede of botsende argumente in die verslag is. AfriForum Jeug is dus van mening dat die US-bestuur die hersieningsproses wil aframmel.

“Dit is hartseer dat die bestuur bereid is om so ver agteroor te buig vir ʼn klein radikale groepie studente, eerder as om hulle grondwetlike verpligting en eie beleid na te kom. Die huidige beleid sê daar is plek vir Engels, Afrikaans en Xhosa en nou wil hulle dit wegneem. Dus gaan hulle studente uitsluit, eerder as om ʼn diverse universiteit te skep waar verskeie kulture en taalgroepe bymekaar kan kom.”

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het ook op 30 Maart 2016 stukke by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien vir regsaksie om die taalbeleid tersyde te stel wat die Universiteit van die Vrystaat (UV) beoog om in 2017 te implementeer.

Dié saak sal op 20 Junie 2016 aangehoor word.

Die grondslag waarop die saak hanteer word, spruit uit die universiteit se raadsbesluit op 12 Maart 2016 wat bepaal dat Engels die enigste onderrigtaal by die UV sal wees vanaf Januarie 2017.

Volgens die woordvoerders van dié drie instellings is dit noodsaaklik dat die saak so gou moontlik afgehandel word. Die lede wat hulle verteenwoordig sluit alumni, ouers van studente, studente en personeel van UV in. Dié groepe ervaar tans groot onsekerheid oor hulle toekoms.

In die verlede het prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV, bevestig dat Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal aan die UV veilig sal wees solank hy die hoof is. Belangegroepe is egter bekommerd dat die onderneming nie gestand gedoen sal word nie.

 

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings