|

Hoërskool debatteerders van Namibië baat uit Dink of Sink-werkswinkel

AfriForum se Dink of Sink-span het op Donderdag 19 September ’n werkswinkel vir hoërskoolleerders by die Napso Nictus Kuns- en Kultuurfees by Laerskool Walvisbaai in Namibië aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid aan wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 27 hoërskoolleerders en ses onderwysers van nege hoërskole in Namibië het die werkswinkel bygewoon. Die skole is Tsumeb Privaatskool, Gobabis Gimnasium, Moria Privaatskool, Elnatan Privaatskool, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Pro-Ed Akademie, Walvisbaai Privaatskool, Berg-op Akademie en Oranjemund Privaatskool.

“Die leerders wat die werkswinkel bygewoon het, het van die staanspoor gereedgestaan om goeie argumente te vorm en hulle sê te sê,” verklaar Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Die leerders sal nou terugkeer na hul onderskeie skole en saam oefen om debat-gereed te wees vir volgende jaar.

“Die hoë gehalte van Donderdag se werkswinkel voorspel dat die Namibiese skole in 2025 ’n hond uit ’n bos teen die Suid-Afrikaanse skole gaan praat,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings