| |

Hof hoor getuienis oor beskuldigde (87) wat onbevoeg is om verhoor te word

Nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir meer as agt jaar versuim het om vervolging in te stel teen Dieter Bergs (87) vir (onder meer) die moord op sy vrou, Genèe Bergs, het die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg vandeesweek kragtens artikel 77 van die Strafproseswet getuienis aangehoor waarop op ’n oorwig van waarskynlikhede ’n bevinding gemaak moet word oor of Bergs skuldig is aan verskeie misdrywe. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan die dogter van die oorledene, in hierdie saak by.

Indien Bergs skuldig bevind word, sal hy vir die res van sy lewe as ’n staatspresidentspasiënt in ’ninstelling vir verswaktes aangehou word.

Dit volg nadat Bergs op grond van psigiatriese verslag van Sterkfontein bevind is om onbevoeg te wees om verhoor te word. Bergs word aangekla van vyf misdade wat hy na bewering tussen 2013 en 2014 gepleeg het. Dit sluit in, die moord op Bergs, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente (uttering). Die Johannesburgse Landdroshof het in Augustus 2019 ná ’n formele geregtelike doodsondersoek bevind dat Bergs prima facie verantwoordelik is vir Genèe se dood.

Genèe se dogter het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat dit geblyk het dat die NVG nie haastig was om in ooreenstemming met die hof se bevinding in die geregtelike doodsondersoek op te tree en Bergs te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in April 2020 vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging gerig het dat Bergs vervolg moet word, het die DOV beveel dat Bergs vervolg moet word en hy moes in Desember 2020 in die Johannesburgse Landdroshof verskyn op dié klagtes. Hy is op daardie geleentheid vrygelaat op borgtog en die saak is oorgeplaas na die Hooggeregshof.

Dié verhoor was veronderstel om in Januarie 2022 te begin, maar die beskuldigde se regspan het op hierdie datum ’n privaat psigiatriese verslag opgehandig wat beweer dat Bergs as gevolg van ’n mediese toestand nie oor die verstandelike vermoëbeskik om verhoor te word nie. Hierdie saak is ’n sprekende voorbeeld waar die NVG se onbegryplike nalating om spoedig te vervolg nou gelei het tot ’n onvermoë om die beskuldigde voor ’n gewone strafhof te kry.

Adv. Indira Bayat, die aanklaer in die saak, het tydens die artikel 77-verrigtinge getuienis gelei dat Bergs diep in die skuld was en dat sy vrou se handtekening nagemaak is wat daartoe gelei het dat aandele wat op haar naam was na sy naam oorgedra is. Genèe het ook ’n polis van ongeveer R4 miljoen gehad waarvan die opbrengs na bewering verdwyn het. Indien Bergs nie verhoor en skuldig bevind word nie, kan hy van sy oorlede vrou erf wat nie die geval sal wees as hy aan haar moord skuldig bevind word nie.

Die hof het ook getuienis aangehoor dat daar op die aand van Genèe se skietdood geen tekens van gedwonge toegang tot die huis was nie, alhoewel Bergs aangevoer het dat Genèe tydens ’n rooftog geskiet is. Genèe se familie het weke ná die insident afgekom op ’n pistool wat in Bergs se naam geregistreer was, maar Bergs het versuim om dit aan die polisie bekend te maak. ’n Derde vuurwapen is ook in die tuin ontdek deur die tuinwerker. Hierdie vuurwapen was erg beskadig, maar volgens ’n getuie in die GDO was die skade nie deur elemente  aangerig nie. Bergs se regsverteenwoordiger het beweer dat hy hierdie vuurwapen by ’n oorlede vriend geleen het. Verder, is niks tydens die beweerde rooftog gesteel nie.

Tydens die verrigtinge het AfriForum se privaatvervolgingseenheid hul toerusting beskikbaar gestel om te verseker dat die saak kon voortgaan terwyl die beskuldigde (wat in Kaapstad is) nie in die hof teenwoordig kon wees nie.

“Die stelreël dat geregtigheid nie net moet geskied nie maar dat die toediening van geregtigheid deur die samelewing ervaar moet word, word deur hierdie saak uitgelig. Die NVG se gesloer om die beskuldigde te vervolg kon vêrreikende gevolge vir die familie van Genèe ingehou het. Ons verwelkom egter die feit dat die saak nou voor die hof is en sal voortgaan om die verrigtinge te monitor,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings