|

HOF HOOR KGETLENG MUNISIPALE BESTUUR DOEN NIKS OM WATER- EN RIOOLWERKE REG TE RUK

Deur Alet Rademeyer

Die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit in die Noordwes het ’n hofbevel willens en wetens verontagsaam en niks gedoen om die water- en rioolwerke by Koster reg te ruk nadat hy in die Mmabatho Hooggeregshof beveel is om dit te doen nie.

Só het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, vandag namens die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI), in die hof in Mahikeng aangevoer.

Hy het betoog dat Joseph Mogale, die bestuurder, se verskonings en aanname dat “historiese uitdagings” hom aan bande gelê het, geen verweer is vir die doelbewuste versuim van sy pligte nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid in die Hooggeregshof in Mmabatho.

Nel het daarop gewys dat die minagting van hofbevele ernstige gevare inhou en gevolge vir die hele samelewing het. Hofbevele is bindend op alle burgers. “Die respondent het die bevel geminag en daar rus nou ’n verpligting op hom om te verduidelik waarom hy die bevel oortree het.”

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid tree namens KBI-inwoners op wat wil hê dat Mogale 90 dae tronkstraf opgelê word vir minagting van die hof.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. 

Mogale se regsverteenwoordiger het aangevoer hy het nie die bevel gehoorsaam nie, omdat ’n skikking daarna tussen partye bereik is en die bevel wat van toepassing op Mogale was verval het en dat sy pligte dus van hom af “weggeneem” is.

Hy voer aan die KBI was ná ’n bevel op 12 Januarie vanjaar weer in beheer van die riool- en waterwerke en Mogale kon gevolglik nie sy pligte en verantwoordelikhede hervat of nakom nie. Daar is volgens hom dus geen sprake van doelbewuste optrede in kwade trou nie.

Nel het hierop gesê Mogale was reeds voor dié datum skuldig aan minagting van die hof. “Daar was geen maar geen aanduiding van sy kant af dat hy die bevel wou uitvoer wat hom tot verantwoording geroep het nie.”

Uitspraak is voorbehou.

Soortgelyke plasings