|

HOF HOOR OOR MOONTLIKE GEPEUTERY AAN BEWYSSTUKKE IN MALEMA-AANRANDINGSAAK

Deur Marthinus Koekemoer

Terwyl Johannes Venter steeds wag vir geregtigheid om te geskied, het die hof vandag in die aanrandingsaak teen Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, in die Randburgse Landdroshof gehoor van bewysstukke waarmee daar glo gepeuter is.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Laurance Hodes, het tot hierdie gevolgtrekking gekom uit die getuienis van Jacobus Smit, digitale forensiese analis by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Dit blyk dat ’n foto-album, wat hy uit kringtelevisievideogrepe opgestel het, nie volledig aan die staatsaanklaer, Yusuf Baba, of Hodes verskaf is nie.

“Dit is uiters kommerwekkend dat ’n polisielid wat net sy werk probeer doen het, nou die slagoffer van skynbare onbevoegdheid onder sy eie kollegas geword het,” sê Jacques Broodryk, bestuurder van veldtogte by AfriForum. “Dit is ook vir ons hoogs verdag dat daar in ’n saak van meneer Malema, van alle mense, met bewysstukke gepeuter word.”

Hodes se vrae aan die drie getuies wat vandag in die bank was, het op dieselfde trant as gister voortgegaan waar hy baie spesifiek oor die kringtelevisievideo, waarop die beweerde aanranding opgeneem is, uitgevra het. Hy het ook teen die einde van vandag se verrigtinge die stelling aan Smit gemaak dat daar “met sy foto-album met bewyse gepeuter is”.

Smit het egter verduidelik dat hoewel sy album dalk nie meer volledig was teen die tyd wat Hodes dit onder oë gekry het nie, dit soms gebeur dat ’n ondersoekbeampte self sekere foto’s kies om in ’n dossier in te sluit.

Kolonel James Bronkhorst was vandag eerste in die getuiebank. Hy het sy getuienis van gister voortgesit wat grootliks betrekking gehad het op die betrokke video en of die voertuig toegang tot Winnie Mandela se begrafnis in 2018 geweier moes word of nie. Voorts het hy getuig wat sy indrukke van die insident was. “Ek dink daar was genoeg twyfel vir die betrokke polisielede om toegang te weier tot die voertuig en insittendes geverifieer kon word,” het hy getuig. “Verifikasie kon binne ’n minuut of twee gedoen word, maar die polisie is nie ’n geleentheid gegee om dit te doen.”

Volgens Bronkhorst het sake geëskaleer voor die nodige verifikasie kon plaasvind. “Dinge kon heel anders uitgedraai het. As die verifikasie bevestig het dat die voertuig kon inkom, was almal nou nog dalk vriende en het saam tee gedrink.”

Charles Seanego, nou afgetree, maar ten tye van die beweerde aanranding ’n kolonel met 42 jaar se ondervinding in die polisiediens wat die ondersoekbeampte van die insident was, het getuig hoe hy die kringtelevisievideo by Memorial Park bekom het.  Hodes het hom ook baie spesifiek ondervra oor waar die videomateriaal bewaar is en of daar enige periode van tyd was waar dit nie onder bewaking was nie. Hoewel Seanego se oorspronklike verklaring nie melding gemaak het van die prosesse wat gevolg is nie, het hy getuig dat die bewysstukke geseël en ingeteken is voor dit na Smit se afdeling in Pretoria gestuur is. Smit het ook getuig hoe hy eers ’n CD en later ’n USB-skyfie in geseëlde forensiese sakkies ontvang het.

AfriForum het by die saak betrokke geraak ná dit lank gesloer het en min vordering gemaak is. Hierna het Malema en Ndlozi verlede jaar vir die eerste keer in verband met die beweerde aanranding van Venter in die hof verskyn. AfriForum het ook ander klagtes teen Malema ingedien onder meer oor die sing van die “Kill the Boer”-liedjie en sy uitsprake teen polisielede wat by die optogte in Brackenfell plaasgevind het.

Minder as 20 EFF-ondersteuners het Malema vandag buite die hof kom ondersteun.

Die staat het beplan om vandag of môre nog ’n belangrike getuie te ondervra. Laasgenoemde moes egter op kort kennisgewing ’n medieseprosedure ondergaan en uitstel is gevra. Die saak sal op 1 en 2 Julie hervat.

Soortgelyke plasings