Hof sê Malema en EFF mag nie grond beset nie


’n Interdik is vandag in die Pretoriase hoë hof teen Julius Malema, omstrede leier van die EFF, en dié party toegestaan nadat AfriForum en AfriSake die hof genader het om Malema en die EFF te verbied om onwettige grondgrype aan te hits.
Die burgerregte- en sakeregtewaghond het die aansoek in November verlede jaar ingedien nadat Malema met sy uitlatings voortgegaan het en verder gedreig het dat die EFF op 6 April grond landwyd gaan beset.
Tarien Cooks, veiligheidskoördineerder van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie het die EFF verlede jaar op terme geplaas om die aanhitsing van grondgrype te staak aangesien dit ’n strafregtelike oortreding is. Die EFF het op AfriForum se skrywe gereageer en gedreig dat hulle die grond gaan vat sonder enige vergoeding en dat die grond herverdeel gaan word.

“Dié uitlating is direk in stryd met die Grondwet asook internasionale reg. Dit is ’n skending van eienaars se regte en daarom het AfriForum tesame met AfriSake die hofinterdik bekom,” sê Cooks.
“AfriSake beskou privaat grondeienaarskap as een van die hoekstene van ’n florerende ekonomie wat op die vryemarkstelsel gegrond is. Enige bedreiging of ondermyning hiervan sal plaaslike en internasionale beleggers afskrik en tot die vloei van kapitaal uit die land lei,” waarsku Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake.
“Indien Malema of ’n lid van die EFF nie dié interdik nakom nie, sal hulle van minagting van die hof aangekla word,” sê Cooks.

AfriForum beplan vandeesmaand ’n blitskonferensie oor wat ’n grondeienaar se regte is en wat hom te doen staan wanneer sy grond beset word.

Soortgelyke plasings