|

Hofrekord wys die regering beplan eintlik om R350 miljoen aan Kuba te skenk

Die hofrekord in AfriForum se saak teen die regering se beplande R50 miljoen skenking aan Kuba wys dat die totale bedrag van die skenking eintlik R350 miljoen is en nie net R50 miljoen nie. Dit het aan die lig gekom ná die burgerregteorganisasie se regspan die hofrekord as deel van hul hersieningsaansoek aangevra het. Volgens die rekord het die regering ingestem tot ’n kontrak met Kuba waar die R50 miljoen slegs as die eerste betaling sou dien in ’n donasie van meer as ’n kwart-miljard rand. AfriForum se regspan is tans besig om ’n aanvullende beëdigde verklaring op te stel ná hierdie onthulling.

“Die onthullings van die hofrekord is werklik aardskuddend. Dit is nou duidelik dat die regering eintlik beplan om meer as ’n kwart-miljard rand aan Kuba te skenk. Hierdie kontrak om R350 miljoen te skenk strook nie met die wette van Suid-Afrika nie en dit is heeltemal irrasioneel om só ’n buitensporige skenking in hierdie moeilike tye te maak. Ons regering leen geld by die IMF, maar sien dit dan goed om broodnodige fondse aan Kuba te skenk. Ten spyte van hierdie verregaande nuus, is AfriForum meer optimisties as ooit tevore dat ons daarin sal slaag om hierdie skenking te stuit,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings