|

HOFSAAK TEEN BELLVILLE-LANDDROS UITGESTEL TOT VOLGENDE JAAR

AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun tans vir Verna Cloete, die klaer in die strafsaak teen Gerald Hattingh, ’n landdros in die Bellville-area. Die saak is op 25 November 2020 tot 10 en 11 Februarie 2021 in die Bellville Landdroshof uitgestel nadat Cloete reeds getuienis gelewer het – Cloete sal ook tydens hierdie hofverskyning deur Hattingh (wat homself verteenwoordig) in kruisverhoor geneem word. Die hof moes vroeg verdaag as gevolg van die feit dat daar geen watertoevoer was nie.

Die saak is reeds in Oktober uitgestel aangesien die vorige voorsittende beampte homself gerekuseer het omdat hy die beskuldigde klaarblyklik goed ken. Die landdros het korrek opgetree deur homself te rekuseer, maar dit is egter ’n situasie wat voorsien kon word en dus vermy moes word. Die saak dien tans voor landdros Cassim.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in 2019 namens Cloete betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik geweier het om vervolging in te stel. Die NVG het egter ’n ommekeer gemaak nadat die eenheid betrokke geraak het, en besluit om wel vervolging teen Hattingh in te stel op ’n klag van roekelose en nalatige bestuur. Die insident het reeds in 2011 plaasgevind toe Hattingh Cloete met sy motor getref het en haar tot só mate beseer het dat sy haar beroep as swaarvoertuigbestuurder nie meer kan volhou nie.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die eenheid juis gestig om selektiewe vervolgings aan te spreek. “Ons verwelkom die feit dat hierdie saak nou uiteindelik voor die hof dien en dat die klaer die geleentheid gehad het om haar saak te stel. Dit is egter jammer dat die saak weereens uitgestel moes word, aangesien die klaer reeds byna ’n dekade wag vir geregtigheid.”

Soortgelyke plasings