Hofuitspraak oor Unisa-taalbeleid nie belyn met taalregte-ontwikkelings

 

AfriForum het met teleurstelling van die hoë hof se uitspraak wat vanoggend gelewer is in die saak van AfriForum teen die eentalige Engelse taalbeleid van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) kennis geneem. Die hof het ten gunste van dié beleid bevind.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is die uitspraak nie in pas met ontwikkelings op die gebied van taalregte wat tans nasionaal en internasionaal plaasvind nie. “Wêreldwyd is daar ’n behoefte aan die beregtiging van meer moedertale en die ontwikkeling van veeltalige omgewings waarbinne groter maatskaplike samehorigheid en beter akademiese prestasie gedy. Suid-Afrikaanse staatsdepartemente en die meeste universiteite neem egter nie kennis hiervan nie, maar storm op ’n eentalige pad voort.”

Bailey meen dat die konseptaalbeleid vir Suid-Afrikaanse openbare tersiêre onderwysinstellings wat onlangs vir kommentaar gepubliseer is, begrip toon vir die kompleksiteit van die taalsituasie in Suid-Afrika en om meer tale vir onderrig- en administratiewe doeleindes by universiteite te gebruik. Verder beklemtoon navorsing van onafhanklike Suid-Afrikaanse deskundiges op taalgebied, insluitend wyle prof. Neville Alexander, asook proff. Elirea Bornman, Theo du Plessis, Russell Kaschula, dr. Monwabisi Ralarala, me. Zakeera Docrat en internasionale deskundiges soos onder andere proff. Fernand de Varennes, Rosemary Salomone en László Marácz duidelik die maatskaplike en ekonomiese voordele van meertaligheid. Daar is ook regsaksies wat plaasvind of beplan word in onder meer Nederland en Italië om ongebreidelde verengelsing van tersiêre onderriginstellings te stuit.

“Suid-Afrikaanse instellings moet verby ideologiese oorwegings begin kyk en die taalregte van alle studente, insluitend Afrikaanssprekendes, uitbou, in plaas daarvan om skyn gelykheid in eentalige instellings deur taalregteskendings te probeer skep,” voeg Bailey by.

AfriForum se regspan sal die uitspraak in fyn besonderhede bestudeer en dan oor ’n aansoek om appèl besluit.

Soortgelyke plasings