|

Honderde woon eerste openbare vergadering oor onteiening by

Meer as 500 mense het vandag die eerste landwye openbare vergadering oor die eiendomsklousule (artikel 25) in die Grondwet in Springbok in Namakwaland bygewoon.

’n Afvaardiging van AfriForum was ook daar om lede en ondersteuners se standpunte oor te dra en sowat honderd voorleggings teen onteiening sonder vergoeding is oorhandig wat eergisteraand tydens ’n vergadering ingesamel is.

Die verhore word deur die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gelei. Daar sal 36 vergaderings oor die volgende ses weke in elke provinsie gehou word. Meer as 700 000 skriftelike voorleggings is reeds ontvang. Vincent Smith, voorsitter van die komitee, het vroeër aangedui dat geen anonieme voorleggings oorweeg sal word nie. Verskeie verteenwoordigers van politieke partye het ook die vergadering in Springbok bygewoon.

Die vergadering in die Concordia-saal in Springbok het sonder ontwrigting plaasgevind. Die algemene gevoel van die plaaslike gemeenskap was dat hulle nie ten gunste daarvan is dat die staat meer grond vat nie. Van hulle het aangedui dat hulle reeds op staatsgrond woon en dat hulle wil hê die titelaktes aan hulle oorgedra moet word sodat hulle dit privaat kan besit.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens ’n  spreekbeurt daarop gewys dat AfriForum besware het rondom die openbare proses omdat dit as ongeorganiseerd, uitsluitend en onbillik beskou word omdat dit veral werkende mense, en dus eienaars van privaat eiendom, uitsluit.

Hy het dit op rekord geplaas dat AfriForum die reg voorbehou om regsadvies in te win met betrekking tot die proses. AfriForum wil wel aan die proses deelneem omdat daar belangrike standpunte is wat die organisasie wil uitwys.

Roets het ook daarop gewys dat onteiening sonder vergoeding op ’n verdraaiing van die verlede geskoei is. Die aanname wat gemaak word dat alle swart mense deur wit mense van hul grond onteien is, is bedrieglik.

Hy het verwys na talle gevallestudies in die wêreld van lande wat welvarend geword het soos Hong Kong, Singapoer en Suid-Korea en ander wat totaal in duie gestort het soos Zimbabwe, Venezuela en Noord-Korea. Die gemene deler in die suksesvolle lande is dat eiendomsreg beskerm is en dat die staat nie in alles probeer inmeng nie. Die gemene deler in al die mislukkings is dat daar ’n aanslag op eiendomsreg was en dat die staat probeer het om die mark te reguleer.

Hy het afgesluit en gesê Suid-Afrika was lank voor die mense wat vandag die vergadering bygewoon hier en sal ook lank daarna nog hier wees. Hy het gesê die parlementêre komitee moet hulself afvra wat hul gaan sê as hul kleinkinders eendag gaan vra of hulle gehelp het om die land ’n beter plek te maak en of hulle aandadig was om Suid-Afrika se krisis te vererger.

AfriForum is bekommerd oor die ekonomiese gevolge van onteiening sonder vergoeding en meen daar is reeds beleggingsonsekerheid en die waarde van grond daal ook reeds.

Marne Taute, ’n inwoner wat die vergadering bygewoon het, het gesê hy maak beswaar teen onteiening sonder vergoeding omdat mense wat nie daarvoor gewerk het dit nie sommer kan kry nie. “Ons oupas en oumas het baie hard op die plase gewerk en ons het dit van hulle geërf. Ons gee vandag werk aan baie mense en as ons eiendom eenvoudig weggeneem word, gaan hulle ook sleg geraak word.”

Linda van Wyk van Cope het gesê sy is nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding nie. Sy meen die Grondwet bied voldoende riglyne vir grondhervorming. Die Grondwet is boonop nie net ten gunste van sekere mense nie. Dit is daar vir elke individu se sekerheid en veiligheid in die land. “Mense wat jare en jare op hul grond is se grond kan nie net weggevat word nie.”

Ilanushca van Neel, verteenwoordiger van ’n taakspan in Concordia, is  teen onteiening sonder vergoeding en meen dis ’n ongrondwetlike manier om gemeenskappe te dryf en dat ontwikkeling beslis nie die oogmerk is nie. “Die regering gaan ons in ’n nuwe nagmerrie dompel wat gaan veroorsaak dat elkeen wat in die land woon ontwortel gaan voel. Daar is niks verkeerd met die Grondwet wat ons tans uitleef nie. Dit gee vir ons alles wat ons nodig het om dinge op ’n ordelike manier te doen sodat elkeen se regte beskerm word. Onteiening sonder vergoeding gaan ons in ’n nuwe rigting dryf wat nie tot voordeel van ons gemeenskappe gaan wees nie.”

Hoofman Paul Swartbooi, verteenwoordiger van die inheemse inwoners van Namakwaland, het gesê in Namaland is die grond in die hande van wit mense en nie swart Afrikane nie. Hy is ten gunste van onteiening sonder vergoeding en meen die regering tree reg op.

Soortgelyke plasings