|

Hoop is nodig om die toekomspad te loop

Kallie Kriel, uitvoerend hoof van AfriForum

Afrikaners, en minderhede oor die algemeen, verkeer onder groeiende druk. Die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot president het nie verhoed dat die ANC se beleidsrigting van ’n nasionale demokratiese rewolusie tans teen ’n versnelde pas in werking gestel word nie.

Eiendomsreg word bedreig deur die ANC se nuwe beleid om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, terwyl enkelmedium- Afrikaanse skole in die spervuur geplaas word. Rasgedrewe “transformasie” op elke lewensterrein is aan die orde van die dag en sal na verwagting verder versnel word. Geweldsmisdaad neem ook jaar na jaar toe.

Dít plaas in 2019 ’n groter verpligting as ooit tevore op AfriForum en elke ander Afrikanerorganisasie om dringend op te tree, meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Kriel het vandeesweek in ’n boodskap aan personeel gesê die oplossings wat Afrikaners moet instel om blywend vry, veilig en voorspoedig binne hierdie omstandighede te kan oorleef, moet nóg vinniger geïmplementeer word. Dit is binne hierdie konteks dat die organisasie sy Twintig19-plan uitgewerk het om sy werksaamhede in 2019 verder te versnel.

Kriel het gesê in die lig van talle uitdagings wat ons in die gesig staar, moet minderhede ook in hierdie jaar aan hoop vashou én hoop skep met alles wat hulle aanpak. “Hoop is die brandstof wat ons krag gee om die toekomspad te loop. Sonder hoop is ’n mens apaties, pessimisties en word jy ’n slagoffer van die geskiedenis.”

Kriel sê die organisasie gaan vanjaar aan kernaspekte aandag gee om ware hoop en nie valse hoop te skep nie. “Ons het almal vanjaar hoop nodig in die lig van toenemende radikalisering, rassisme, die openlike teiken van minderhede en die agteruitgang in dienslewering. “Om hoop te skep, is ’n werkbare vindingryke plan nodig. En dit is waarop ons gaan fokus. Ons gaan hard werk om bestaande werklikhede in die land te beïnvloed én om selfstandigheid te bevorder.”

Kriel het ook verwys na selfstandigheidsprojekte van AfriForum wat vanjaar in ankerdorpe uitgerol gaan word. Ankerdorpe vorm deel van die Solidariteit Beweging se konsentrasiestrategie. Hiervolgens sal daar ’n spesifieke fokus wees om in die ankerdorpe en –stede, waar Afrikaners in die toekoms in groter getalle gaan woon, te help toesien dat daar sterk instellings en dienste gevestig word om op verskeie terreine aan die behoeftes van Afrikaners in dié dorpe én omliggende gebiede te voldoen.

As burgerregte-organisasie gaan al die organisasie se aksies, veldtogte en optrede ook daarop gerig wees om vyf oorhoofse uitkomste te bereik naamlik:

  1. Veiligheid

Die uitkoms is daarop gerig dat AfriForum se werksaamhede moet bydra om ’n veilige samelewing te vestig waar AfriForum se lede, ondersteuners en ander burgers veilig is en voel in gebiede waar ons werksaam is.

  1. Selfstandigheid

AfriForum se aktiwiteite moet bydra om selfstandigheid te vestig onder Afrikaners en gemeenskappe waarin ons werk.

  1. Identiteit

AfriForum se aksies moet bydra om die Afrikaneridentiteit, -kultuur, -geskiedenis en die Afrikaanse taal te beskerm en uit te bou, met die uitkoms dat Afrikaners met behoud van hul identiteit as gemeenskap blywend sal voortbestaan.

  1. Geregtigheid

AfriForum se aksies is grootliks daarop gerig om te help toesien dat geregtigheid op verskeie vlakke geskied. Gevolglik dien dit as belangrike maatstaf vir AfriForum se werksaamhede.

  1. Organisasiebou

Hoewel AfriForum bloot ’n voertuig vir die bereiking van ’n groter doel is, is dit ook so dat die bereiking van al die uitkomste wat AfriForum navolg afhanklik is daarvan dat AfriForum so sterk moontlik moet wees. Gevolglik is versterking ’n uitkoms wat bereik moet word.

Voortgesette ledewerwing en -behoud is van kardinale belang om AfriForum se uitvoerende vermoë steeds verder uit te bou. Die nood onder Afrikaners vereis dat AfriForum nog méér sukses moet behaal.

 

Soortgelyke plasings