Hordes ruk op vir nasionale veiligheidsberaad


Meer as 1000 mense het vandag AfriForum en die Solidariteit-beweging se veiligheidsberaad by die Heartfelt Arena in Pretoria bygewoon. Die doel van dié veiligheidsberaad was om nasionale veiligheidsmeganismes tussen gemeenskappe, die staat en privaat sektor te bespreek ten einde misdaad te bekamp, met die tema Kom ons maak ons strate veilig.
Yusuf Abramjee, sosiale en teenmisdaadaktivis, het tydens sy toespraak by dié beraad gesê dit is tyd om saam te staan, te verenig en ’n massa-opmars teen misdaad te organiseer.

“Dit is tyd om die regering wakker te maak en ons stilte te verbreek. Moenie bang wees nie. Ons as Suid-Afrikaners is moeg vir die bloed, lyke en koeëls,” het Abramjee gesê.

Mosiuoa Lekota, voormalige minister van verdediging en leier van COPE, het gesê dat Suid-Afrika nie die nodige leierskap en beheer het nie en dat misdaad ’n impak op almal in die land het:

“Ons sit met ’n president wat nie die grondwet respekteer nie. Die voorbeelde wat hy [pres. Jacob Zuma] stel, is swak.”

Lekota het verder beklemtoon dat Suid-Afrika aan almal, ongeag ras, behoort en dat samewerking nodig is om ’n verskil te maak.
Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het gesê dat veiligheid ’n bekommernis en ’n topprioriteit vir die metro bly. Hy het ook na beleggers verwys en gesê dat as Suid-Afrika se ekonomie groei wil ervaar, die land nie net vir burgers nie, maar ook vir beleggers veilig gemaak moet word.
Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het misdaad en politici wat geweld aanhits, met boeliegedrag vergelyk.

“Misdadigers en politici wat geweld aanpor, teiken soos alle boelies diegene wat kwesbaar is. Daarom is en bly die beste antwoord teen geweldenaars dat gemeenskappe in staat moet wees om hulleself binne die raamwerk van die wet te beskerm. Samewerking tussen alle rolspelers, insluitend die SAPD, kan hierdie pogings versterk. AfriForum se veiligheidsberaad was ʼn volgende stap om die landswye implementering van AfriForum se prakties uitvoerbare veiligheidsplan te versnel,” het Kriel gesê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het klem daarop gelê dat weerbaarheid die enigste antwoord op weerloosheid is.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, moet Suid-Afrikaners eienaarskap van hul veiligheid neem:

“As ons ongeregtigheid toelaat sonder optrede, sal ons die bekwaamheid om onsself en ander te beskerm, verloor – ons moet optree.”

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies, Conway Evertson (direkteur van die ministerie van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap), prof. Rudolph Zinn (kriminologie-kenner by UNISA), Ben Freeth (aktivis en boer van Zimbabwe) en afgetrede genl.maj. Roland de Vries (voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër) het ook toesprake gelewer. ’n Eksklusiewe video-onderhoud met genl.maj. Johan Booysen (voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal), is ook by die beraad vertoon.
AfriForum doen ’n beroep op lede van dié burgerregtewaghond sowel as lede van die publiek om by veiligheidstrukture betrokke te raak.
Om by ’n AfriForum-buurtwag aan te sluit of betrokke te raak, SMS “Buurtwag” 45353 (R1) of stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za.
 

Soortgelyke plasings