|

HOU DOP: Kallie Kriel in Mahikeng vir Coligny-saak

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, woon vandag die hofverrigtinge in die hooggeregshof in Mahikeng in Noordwes by vir die vonnisoplegging van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte.

Die twee mans is verlede jaar in Oktober aan die moord op Matlhomola Moshoeu  (16) skuldig bevind.

Doorewaard en Schutte het hom betrap waar hy sonneblomme gesteel het. Volgens hul weergawe het hulle hom op hul bakkie gelaai om na die polisiestasie te neem.

Doorewaard en Schutte se regspanne het aangevoer die seun het van die bakkie afgespring. Hulle het onskuldig gepleit, maar regter Ronald Hendricks het hul skuldig bevind.

Die enigste getuie in die saak is Bonakele Pakisi. Hy het beweer hoe hy gesien het hoe die mans die seun van die bakkie afgooi.

Pakisi het intussen aan twee predikante en ’n prokureur erken dat hy nooit op die toneel was nie en nie gesien het wat gebeur nie. Hy het sy weergawe intussen herhaaldelik verander en selfs aangevoer dat hy met die dood gedreig is om sy weergawe van die gebeure te wysig.

Kriel het buite die hof gesê dit is noodsaaklik dat geregtigheid moet geskiet. “Noudat die enigste ooggetuie in die saak erken het dat hy blatant gelieg het, gaan ’n appèlaansoek na vonnisoplegging gebring word.”

Kriel het gesê AfriForum betaal die regskoste sodat adv. Barry Roux die aansoek kan bring.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sal Roux ook in die saak bystaan.

Soortgelyke plasings