Hou politiek uit Eskom-aanstelling en nuwe hoof se rol – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n beroep op Eskom gedoen dat dié kragreus se nuwe hoof- uitvoerende beampte nie ’n politieke aanstelling moet wees en nie aan politieke inmenging onderhewig moet wees nie. Dit volg nadat Phakamani Hadebe onlangs by die kragreus bedank het.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê Eskom het sedert 2007 reeds 11 hoofde gehad. “Sulke onstabiliteit is deur sowel regstreekse as indirekte politieke inmenging veroorsaak en veral die skadelike termyne van politieke aanstellings, soos Brian Molefe, het Eskom as kritieke ekonomiese bate lamgelê. Eskom se werksmag het ook sedert 2007 met rasse skrede toegeneem en terselfdertyd weens regstellende aksie verswak terwyl hul inkomste en kragopwekking nie daarmee tred gehou het nie.”

Volgens Brink was Hadebe ’n goeie aanstelling, maar hy het steeds geen kans gestaan om ’n verskil te maak nie. “Eerstens het die minister van openbare ondernemings die finale sê oor belangrike sake by Eskom en hy moet ANC-beleid uitvoer en die party se vennote paai. Dan is daar ook ’n herstruktureringsoffisier aangestel om baie van Hadebe se pligte oor te neem en dalk selfs sy planne te stuit. Hadebe was dalk nie die beste tegniese aanstelling nie, maar hy het geweet Eskom is finansieel diep in die knyp en dat daar ’n verantwoordbaarheidskrisis by die kragreus is.”
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê Hadebe se opvolger sal tallose probleme hê. “Die uitdaging van verouderde kragstasies, verdere moontlike verliese van sowat R20 miljard in die laaste boekjaar, R419 miljard se skuld, ’n erge verlies aan kundigheid, enorme munisipale skuld aan die kragvoorsiener en broodnodige onderhoud, tel onder sommige van hierdie probleme.
“Hierdie persoon moet ’n gepaste tegnokraat wees en gelos word om sy of haar moeilike werk te doen om Eskom om te keer. Indien Eskom nie omgekeer word nie, sal pres. Cyril Ramaphosa se groeiplanne vir die ekonomie en werkskepping buitendien op niks uitloop.”

Soortgelyke plasings