|

HS LINDEN EN AFFIES MEISIES KRAAI KONING IN DINK OF SINK-DEBATKOMPETISIE

Deur Marthinus Koekemoer

Ongeag van die uitdagings van die Covid-19-regulasies was AfriForum se Dink of Sink-debatkompetisie vir 2020 steeds ’n sukses met meer as 50 spanne van regoor die land wat deelgeneem het.

Waar die kompetisie verlede jaar nog by sekere skole in die onderskeie streke aangebied is, het spanne vanjaar by hul eie skole teen mekaar meegeding en dan ’n video van die debat aan die beoordelaars gestuur. ’n Onderwerp word vir die spanne gegee waarna hulle net vyf minute kry om voor te berei.

Vanjaar se Dink of Sink-kompetisie is aanlyn aangebied.

“Die deelnemers se algemene kennis is baie belangrik,” sê Carien Bloem, beoordelaar en bestuurder vir AfriForum se onderwyssake.

“Ons wil hê die deelnemers moet omtrent dadelik wegspring en begin praat. Dis ’n redelike informele manier waarop die kompetisie plaasvind.”

Elke deelnemer word twee en ’n half minute gegun om hul span se saak te stel. Daarna word daar vir nog sewe minute debat gevoer. Elke spreker word beoordeel op die struktuur van hul argument, taal gebruik, lewering en inhoud waarna hulle ’n punt uit 50 kry. In die ope debat kry die spanne punte vir hoe samehorig hulle die saak stel en hoe goed hulle vrae aan die ander span stel en op hul beurt vrae beantwoord. Uiteindelik word ’n punt uit 200 vir elke span toegeken. Onderwerpe het net soos vorige jare oor aktuele sake gehandel en is uniek vir elke span ontwikkel sodra hul inskrywing aanlyn ingestuur is.

Elke span het ’n punt uit 200 gekry

“Ek haal my hoed af vir wat die deelnemers onder die uitdagende omstandighede vermag het,” sê Bloem.

“Aan die een kant was dit iets heeltemal nuut om aanlyn deel te neem en met skole wat vir Covid een oomblik oop en toe skielik toe was kon voorbereiding nie maklik gewees het nie. Die spanne het oor die algemeen hulle baie goed van hul taak gekwyt.”

Carien Bloem, beoordelaar en bestuurder vir AfriForum se onderwyssake

In die juniorkategorie skryf skole hul gr. 8- en 9-leerlinge in. Vanjaar was daar 23 spanne in hierdie afdeling met die Hoërskool Linden in Randburg se span van Simon Killian, Mia Marais en Natasha Dixon wat die uiteindelike wenners was. Wat hul prestasie nogal merkwaardig maak is dat Simon kort voor die kompetisie positief vir Covid-19 getoets het. Andries de Kock, Zander Marais en Nelius van Graan van Helpmekaar Kollege is as naaswenners aangewys.

Santie Mostert, Linden se afrigter en mede-eienaar van Jack in a Box Speech and Drama in Northcliff, sê die span het baie hard gewerk en sy is baie trots op hul oorwinning. By Jack in a Box begin gr.1-leerlinge al met onvoorbereide redenaars.

“Die span het met Zoom-sessies geoefen,” sê Mostert.

“Vyf oefeninge soortgelyk aan die kompetisie se formaat is gebruik met terugvoering en voorstelle na elke sessie. Die spanlede is volgende jaar seniors, maar ons wil graag weer deelneem.”

In die seniorafdeling vir gr. 10- tot 12-leerlinge het die Afrikaans Hoër Meisieskool (AHMP), Pretoria, se span van Kristie Guldenfennig, Miné Herman en Megan Kruger koning gekraai met Arnold Hattingh, Gabi dos Santos, Andries Harmse van die Hoërskool D.F. Malan in Kaapstad tweede.

Hesila van Eck, is AHMP se afrigter en departmentshoof vir Afrikaans by dié skool, sê Covid-19 het vir ’n rowwe tydjie by die skool gesorg en het voorbereiding vir Dink of Sink uiters uitdagend gemaak. “Die dogters het in fases skool toe gekom en dit was moeilik om almal saam te kry om te oefen,” sê sy. “Daar was uiteindelik net een oefening op die oggend wat ons die video vir die kompetisie opgeneem het. Ons is baie in ons skik met die eerste plek.”

Van Eck sê AHMP se spanne is mal oor Dink of Sink en dat die onderwerpe waaroor hulle praat baie lekker is. Dieselfde span was verlede jaar die wenners van die juniorafdeling en hulle sal volgende jaar hul titel probeer verdedig.

Bloem sê die hoop is om volgende jaar weer Dink of Sink in lewende lywe aan te bied.

Volgende jaar se kompetisie word met die Suidstreek op 7 Mei by die Hoërskool D.F. Malan in Kaapstad afgeskop. Die Verre Noordstreek debatteer op 10 Junie by die Hoërskool Merensky, die Sentraalstreek meet op 5 Augustus by C&N Oranje Meisieskool Sekondêr kragte en die Noordstreek se beurt is op 12 en 13 Augustus by die Hoërskool Montana, Pretoria. Wenners van die streeksuitdunne sal op 3 Oktober in die nasionale eindstryd kragte meet.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za.

Soortgelyke plasings