|

Húlle maak ’n verskil in slagoffers se lewens

Deur Carina Bester

Die oorgrote meerderheid van die samelewing is al deur traumatiese gebeure geraak en het dit oorleef. ’n Pistool wat nie tydens ’n aanval afgegaan het nie, om die enigste oorlewende te wees ná ’n plaasaanval of die ontsnapping tydens ’n huisrooftog maak ’n persoon ’n trauma-oorlewende.

Vir die grootste persentasie trauma-oorlewendes is die gebeure dalk iets van die verlede, maar die ontstellende gedagtes, negatiewe gevoelens, slapelose nagte, nagmerries en gedurige onderliggende angs bly ’n persoonlike werklikheid. Dit is hier waar AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid ’n baie unieke en persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad bied.

Die Trauma-ondersteuningseenheid is in 2015 op die been gebring met die doel om slagoffers van geweldmisdaad by te staan. Dié eenheid het tans vier personeellede wat slagoffers bystaan: Johan Kloppers (suidstreek), Hennie Human (sentraalstreek), Magda Coetzee (noordstreek) en Izel Kruger (kantoor- en projekkoördineerder).

Die primêre doel van die eenheid is om so gou as moontlik ná ’n traumatiese gebeurtenis emosionele en praktiese ondersteuning aan slagoffers te bied om die impak van die trauma te verlig en die herfunksionering van die persoon te bespoedig. Die eenheid staan slagoffers ook by tydens die ondersoekproses en hofprosedure, en bemagtig hulle om sekondêre trauma en viktimisering tydens hofsake te verminder. Slagoffers word verder bygestaan met die skryf of aflê van beëdigde verklarings en die voorbereiding voor en tydens hofsake.

Die eenheid identifiseer en verwys slagoffers na professionele kundiges indien terapeutiese en gespesialiseerde dienste benodig word. Hulle help ook met ontlonting, hetsy individueel of in groepsverband.

Die eenheid voorsien slagoffers van inligting ten opsigte van die regsproses ingeval van seksuele misdrywe, wat seksuele misdrywe teen kinders en gesinsgeweld insluit.

Prioriteitsake vir die eenheid is onder meer plaasaanvalle, moorde, poging tot moord, seksuele aanranding en verkragting, huisbraak en motordiefstal en kapings.

Die eenheid word deur AfriForum se beheerkamer geaktiveer, wat aanvalle aanmeld en aan die eenheid deurgee indien die slagoffers emosionele ondersteuning verlang.

Elke geval is uniek en die eenheid se betrokkenheid by slagoffers wissel van ’n maand tot drie tot vier jaar. Hierdie diens word aan die hele gemeenskap gebied en nie net aan AfriForum-lede nie.

Indien jy enige navrae oor AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het of moontlik van hul dienste gebruik wil maak, skakel 012 880 1954 of die noodnommer 064 870 8312. ’n E-pos kan ook gestuur word na trauma@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings