Hulp aan Vrystaatse boere: Duisende maak harte en beursies oop

AfriForum het saam met verskeie ander organisasies oor die afgelope week tonne produkte asook fondse ingesamel vir boere wat deur die onlangse vernietigende brande in die Vrystaat geraak is.

Die publiek het die afgelope week duisende bokse met blikkieskos, langlewemelk, toiletware, suiker, meel, koffie, tee, beskuit en medisyne by AfriForum se hoofkantoor in Centurion afgelaai.

Die eerste trokke met vragte van dié bokse word Saterdag na die Vrystaat gestuur, waar minstens 100 000 ha weiding in brande verwoes is in onder meer Dealesville, Hoopstad, Bultfontein, Warrenton en Boshof. Van daar sal die goedere deur plaaslike landbou-organisasies versprei word aan boere wat deur dié brande getref is.

AfriForum het reeds meer as R4,5 miljoen in samewerking met ander organisasies soos Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, Saai, die Solidariteit Helpende Hand, TLU Noordwes, Vuilskapie, Boeredroogtehulp SA, Save the Sheep, Droogte Hulp en Boere in Nood ingesamel. Dié fondse sal aangewend word om boere te ondersteun waar daar nood is. Honderde ton voer is ook reeds gestuur of word tans afgelewer.

“Die reaksie op AfriForum se versoek vir hulp aan die boere is oorweldigend. Baie dankie aan elke persoon, maatskappy en instansie wat hul harte en beursies oopgemaak het om boere te ondersteun wat byna alles in die brande verloor het. Dit is skenkings deur die publiek wat ons in staat stel het om boere te kan help,” sê Henk Maree, woordvoerder en koördineerder van AfriForum se Boks vir ’n Boer-projek. “Ná die verwoesting wat die brande daar veroorsaak het, kan ’n mens nie anders nie as om alles in jou vermoë te doen om hulle te help. Die skade is onbeskryflik groot.”

Vrydag 30 Oktober was die laaste dag waarop mense bokse by AfriForum se hoofkantoor kon aflaai. Maree sê die kosskenkings is meer as genoeg om in die boere se huidige behoeftes te voorsien. Volgende week sal die verskeie instansies voortgaan om hulp in die vorm van voer te voorsien.

’n Konsert word op Woensdag 4 November gehou om verdere fondse in te samel. Sangers wat by die konsert sal optree is Appel, Jay, Adam Tas, Ichnus Wait en Pieter Smith. Kaartjies is te koop by www.dappermedia.co.za.

Soortgelyke plasings