|

HULP DRINGEND NODIG OM VOORTREKKERMONUMENT UIT STAATSHANDE TE HOU

Deur Marthinus Koekemoer

Die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria het dringend R5 miljoen nodig om dié geskiedkundige erfenisterrein vir die volgende ses maande aan die gang te hou.

Die monument het ’n noodkreet op sy FB-blad geplaas en sê personeelafleggings is ’n moontlikheid of die VTM kan selfs uiteindelik onder staatsbestuur beland indien die nodige fondse nie bekom word nie.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, sal dit ’n tragedie wees as laasgenoemde sou gebeur. “Ons het hard baklei om die staat se tentakels van die monument af te hou. Dit sal jammer wees as dit ná soveel jare sou gebeur.”

Die VTM moes vir ’n geruime tyd vir besoekers sluit toe die COVID-19 pandemie in Maart verlede jaar uitgebreek het. Sedert die inperking na vlak 3 verslap is, is die monument weer vir besoekers oopgestel, maar dis tans net ’n handjie vol plaaslike inwoners wat die monument besoek. Voor die uitbreek van COVID-19 was minder as die helfde van besoekers Suid-Afrikaners en selfs die aantal plaaslike besoekers wat oor die laaste aantal maande die monument besoek het, is drasties minder vergeleke met vorige jare.

Verlede jaar is die VTM en die Bloedrivier Erfenisterrein, virtueel steen vir steen verkoop om geld in te samel. Alles van die granietstene, senotaaf tot die waens in die laer by Bloedrivier is te koop aangebied met kopers wat ’n sertifikaat ontvang het vir die item wat hulle aangeskaf het.

Die Voortrekkermonument is virtueel steen vir steen verkoop. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Die verkope het aanvanklik baie goed verloop,” sê Geraldine Paulsen, bemarker by die VTM. “Daar is egter nog baie items wat te koop is. Ons het meer as R1 miljoen per maand nodig om die monument te bedryf en ons het sover sowat R1,5 miljoen met die verkope ingesamel. Ons het baie minder besoekers as voorheen wat ons inkomste ’n groot knou gegee het.”

Enkele personeellede by die VTM het reeds hul werk verloor, maar volgens Paulsen sal nog mense elders moet werk soek indien daar nie binne die volgende paar maande geld van êrens af inkom nie. Sy meen daar is selfs ’n kans dat die monument se deure permanent gesluit sal moet word.

Bailey sê daar is veel meer as net die monument self op die spel. “Daar is spesialiste met ongelooflike kennis wat by die VTM werk en dit is noodsaaklik om hulle te behou. Die publiek besef dalk nie hoeveel dit kos om ’n plek soos die VTM te bedryf nie. Ons het ’n morele plig om in te spring en te help. Elke bietjie sal help.”

Daar is wel planne in plek om ’n groter inkomste by die VTM te genereer, maar volgens Paulsen sal dit sowat ses maande neem voor hierdie projekte behoorlike vrugte begin afwerp.

Daar is tot einde van Februarie 50%-korting op kaartjies om die monument te besoek. Skakel 012-326-6770 of besoek www.vtm.org.za om meer uit te vind of om items of gedeeltes van die monument te “koop” om te help dat dit vir die nageslag bewaar kan word.

Sonder ‘n kontantinspuiting kan die VTM onder staatsbeheer beland. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Soortgelyke plasings