|

Impak en gevolge van NGV by krisisberaad belig

Gesondheidkenners het vandag ’n baie donker prentjie vir die toekoms van gesondheidsorg in die land geskets indien die konsepwetgewing vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) inwerking gestel word.

’n Krisisberaad is deur die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns aangebied waar kundiges insette gelewer het oor wat met die beoogde NGV verwag kan word.

Prof. Alex van den Heever, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het harde woorde vir die regering se NGV-plan gehad en gesê indien daar nie behoorlike sleutelraamwerke en strukture vir die gesondheidstelsel in plek kom nie, die NGV gedoem is.

Hy het gesê dit is vir die regering maklik om beleide te ontwerp wat geheel en al uit voeling met die werklikheid is.

Volgens Van den Heever presteer die openbare gesondheidsektor uiters swak. Hy meen ’n regeringsmodel gegrond op “patronaatskap”, waar politici alle aanstellings maak en alle prosesse beheer, kom neer op ’n perverse geprivatiseerde stelsel wat net hulle bevoordeel en hul eie belange dien. “Politiek moet uit die NGV gehaal word, anders is dit soos ander instellings soos Sassa, die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Openbare Beleggingskorporasie ontwerp om gekaap te word. Ons het ’n totaal nuwe model van regering nodig.”

Oor privaat gesondheidsorg meen Van den Heever is daar ook leemtes in regulering wat lankal reggestel kon geword het. Hy sê om suksesvolle gesondheidsorg te bewerkstellig, is groter verantwoordbaarheid, desentralisasie en onafhanklikheid van instellings en dienste nodig.

Van den Heever meen die NGV gaan teen 2026 nog niks opgelewer het nie, en intussen word die privaat gesondheidsektor gesaboteer omdat die regering wil hê die NGV moet alle mediese fondse vervang.

Nicolien Welthagen, verbonde aan Solidariteit se Navorsingsinstituut, het in haar voorlegging verwys na hoe oningelig en onseker gesondheidspraktisyns oor die NGV is. 72,6% van respondente wat aan ’n studie deelgeneem het, meen daar is nie genoeg gekonsulteer nie, terwyl 72% negatief en skepties oor die NGV is. Altesame 93% is bekommerd oor die staat se vermoë om die prosesse te administreer en 84% is bekommerd oor die tekort aan dokters en toerusting.

Dr. Chris Archer, voorsitter van die Vryemarkstigting se gesondheidsbeleidskomitee, het gesê die voorgestelde NGV is die enigste stelsel ter wêreld wat mense gesondheidsdekking wil gee wat reeds deur private mediese fondse dekking het. Hy het gewys op die geweldige risiko’s van korrupsie met die NGV asook grondwetlike kwessies wat mense die reg op privaat versekering wil ontneem.

“Die ekonomiese implikasies van die NGV is nog nêrens verreken nie. As die probleme met die NGV nie vinnig opgelos word nie, sal dit die einde van mediese fondse in die land wees.”

Dr. Hlombe Makuluma, ’n algemene praktisyn, het gesê die vereistes wat die NGV rondom sertifisering, kontraktering en akkreditasie het, is kommerwekkend. Verder sal die vryheid van keuse van gesondheidspraktisyns sowel as pasiënte aan bande gelê word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesondheidspraktisyns nou bystand nodig.

“Die openbare gesondheidstelsel misluk op die oomblik. Die toetslopies van die NGV het misluk, maar ons staat hou nie van klein mislukkings nie, hulle hou van groot mislukkings. Hierdie beraad dien as inset van die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns se kommentaar op die voorgestelde wetgewing. Ons regspan, onder leiding van een van Suid-Afrika se voorste regslui, adv. Albert Lamey, gaan elke inset vandag oorweeg vir ons kommentaar.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê staatsinmenging lei tot verhoogde mediese koste, swakker diens en sieker mense in Suid-Afrika. “Hierdie ongesonde toedrag van sake is veroorsaak deur onder andere: Oorregulering wat kostes opjaag, prysvasstelling wat byvoorbeeld die mark vir medisyne verwring, apteke wat sluit en vrye mededinging verhoed, plafonne op die ontwikkeling van meer hospitale wat kunsmatige tekorte skep wat pryse opstoot, regulasies wat die opleiding van meer dokters en spesialiste verhoed en wat só tekorte skep wat pryse opjaag.

“Die NGV hou wel ʼn groot bedreiging vir almal se gesondheid in, maar weens die staat se onvermoë is dit eerder soos ʼn skilpad as ʼn kwaai renoster wat op ons afpyl. Daarom is dit lewensbelangrik dat ons die tyd nou gebruik om die beleid te beïnvloed,” sê Buys.

Hermann sê Solidariteit verwag ook dat tienduisende mense die kommentaar sal steun. “Elke stem is nou nodig. Groot regeringsprojekte kan nog misluk, maar my en my gesin se gesondheid kan nie.”

Soortgelyke plasings