Indien nog plaasmoordsake teruggetrek word, moet NVG bevraagteken word

 

Die moordsake teen drie van die agt mans wat verdink is van die moord op die Coligny-boer Hannes Christie (65), wat in Februarie 2018 op die plaas Vlakfontein naby Coligny in die Noordwes vermoor is, is vandag teruggetrek.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê: “AfriForum monitor tans die saak en is van mening dat indien dit sou gebeur dat nog sake laat vaar word, daar verdere ondersoek ingestel moet word oor die doen en late van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) op grondvlak in hierdie soort sake.”
Cameron sê verder dat dit reeds in die verlede gebeur het dat verdagtes vrygelaat word, nie weens werklike onskuld nie, maar eerder swak ondersoekwerk en veral swak vervolgingswerk deur die NVG se beamptes op grondvlak. “Byvoorbeeld, in Gauteng is Bernadette Hall se vermoorde man, David Hall, se moordenaars om soortgelyke redes vrygelaat en so ook word daar in baie ander gevalle niemand gearresteer nie.
“Ons help tans ook met die saak van Nicci Simpson wat nie ver van Bernadette Hall se plaas aangeval is en wie se hande en voete met ʼn elektriese boor deurboor is – tot vandag is daar nog nie een arrestasie gemaak nie,” sê Cameron.

Hy voeg ook by dat daar met Simpson se saak eers sowat ʼn maand ná die aanval identikits gedoen en verklarings gefinaliseer is.
Die vermoorde Hannes Christie is een van die meer as 200 slagoffers van die sowat 182 plaasaanvalle wat tot dusver vanjaar gepleeg is.

Soortgelyke plasings