|

Ingeligte gemeenskappe is meer bemagtig om selfbestuur toe te pas

Die burgerregtewaghond AfriForum het pas ’n omvattende veldtog aangekondig om die wêreld in te lig oor wat in Suid-Afrika aan die gebeur is en watter stryd minderhede in die besonder rondom die beskerming van burgerregte ervaar.

Party mense sal sê internasionale bewusmaking is nie nodig nie of sal in elk geval nie vrugte afwerp nie omdat die internasionale wêreld en groot moonthede soos die VSA  in elk geval nie ’n duit kan omgee oor wat hier ter plaatse ontvou nie.

Dalk steek daar ’n bietjie waarheid in, in die sin dat elke soewereine staat in elk geval net oor sy eie lot en omstandighede besorg is.

Tog is daar baie te sê vir individue en organisasies soos AfriForum wat die leiding neem om die lot van minderhede én die breë gemeenskap plaaslik en internasionaal aan die groot klok te hang in ’n poging om die ANC-regering tot verantwoording te roep. Alles moontlik moet tog in die stryd gewerp word om te verhoed dat die land uiteindelik ’n volslae mislukte staat word.

Deur AfriForum se veldtogte en aksies poog die organisasie om iets daadwerklik aan probleme soos staatsverval, korrupsie, wanbestuur en die vertrapping van landsburgers se regte te doen. Onwerkbare en vergesogte wetsontwerpe soos onteiening sonder vergoeding en die nasionale gesondheidsversekering moet teengestaan word en waar moontlik moet ondeurdagte regeringsbesluite beïnvloed word.

Suid-Afrikaners, en Afrikaners in die besonder, voel toenemend uitgelewer aan ’n regering wat nie landsburgers se beste belange op die hart dra nie. Kyk byvoorbeeld maar na amptenare se inmenging in skole, die aktiewe ontwapening van landsburgers en die regering se hantering van kwessies soos die ineenstorting van infrastruktuur en semi-staatsinstellings, besoedeling, plaasmoorde, haatspraak en rassistiese uitlatings deur politici.

Dit is belangrik dat steun vir ’n beter Suid-Afrika plaaslik en internasionaal gewerf word en dat gemeenskappe gemobiliseer en ingelig word oor wat tans besig is om te gebeur.

Die noodsaaklikheid van ingeligte gemeenskappe kan nooit oorbeklemtoon word nie. Dit is eers wanneer mense nie langer siende blind en horende doof is vir die onreg wat teenoor hulself en andere gepleeg word nie, dat ’n energie ontsluit word om op te staan en daadwerklik iets vir jouself te begin doen.

Gemeenskappe wat deur inligting en kennis bemagtig is, is gemeenskappe wat ook na mekaar begin uitreik en begin saamstaan om hul omstandighede te verbeter. En wanneer dit begin, word hoop geskep en begin mense roepingsgedrewe lewe om uiteindelik sinvol ’n bestaan te maak en ’n toekoms te skep.

Dít sien ons toenemend in dorpe en stedelike gebiede waar AfriForum takke het en inwoners besef dit gaan nie help om vir die regering te wag om dinge vir hulle te doen nie. Al hoe meer mense steek hand op om as vrywilligers in hul gemeenskappe te werk ten einde hul omgewings te verbeter en hulself beter te beveilig.

In plaas daarvan om bewusmakingsveldtogte te kritiseer, behoort een en elk ons self gereeld aan Edmund Burke se woorde te herinner: “Die enigste ding wat nodig is vir die bose om te triomfeer, is vir goeie mense om niks te doen nie.”

Soortgelyke plasings