|

Inskrywings vir Besigheidsbytjies nou oop!

“Moenie huiwer nie, begin vandag. Jy is nooit té jonk om ’n entrepreneur te word nie.”

So meen Albert van Wyk (26), ‘n Pretoriase eiendomsbelegger en entrepreneur wat vandag leerlinge van Laerskool Pierneef oor entrepreneurswese toegespreek het as deel van AfriForum en AfriForum Onderwys se Besigheidsbytjies-kompetisie.

Van Wyk, wat reeds op die ouderdom van 10 speelgoed by sy laerskool begin verkoop het, het op die ouderdom van 22 ’n miljoenêr geword en deel graag sy storie en sake-idees om ander jong mense aan te moedig.

“Ek wens daar was iemand wat my op skool of universiteit oor die belangrikheid en moontlikhede rondom entrepreneurswese geleer het. Daarom dink ek is dit fantasties dat Besigheidsbytjies na jong laerskoolleerlinge uitreik. Ek wil hê kinders moet besef hulle kan nóú al begin bou aan ’n besigheid en blink toekoms,” sê hy.

Een van sy grootste wenke aan jong en opkomende entrepreneurs is om hulself gedurig in te lig en te leer by ander sakelui. Hy het in 2017 sy eie boek How to become a Millionaire at 22 uitgereik. “Goeie entrepreneurs kan deur slegte ekonomiese tye en veranderende tendense aanhou besigheid doen omdat hulle self hulle eie sukses moet kan skep.”

Alta Strauss, motiveringspreker en entrepreneur, het die leerlinge ook toegespreek oor die drie belangrike p’s van besigheid, naamlik potensiaal, positiwiteit en probleemoplossing. “Dit is van onskatbare waarde om leerders reeds vanaf grondslagfase met entrepreneurskapsvaardighede toe te rus. Dit bevorder vroeg in kinders se lewe hul vaardigheid om proaktief op te tree en integriteit en deursettingsvermoë te hê.”

Laerskoolleerders van regoor die land kan aan die Besigheidsbytjies-kompetisie deelneem om die beste produkidee suksesvol te ontwikkel, te bemark en te verkoop. Die publiek kan ook aanlyn vir die deelnemers stem mits hulle aan die aanlyn kriteria voldoen en daarna sal ’n paneel die wenners aanwys.

Leerders kan in twee kategorieë inskryf: Graad 1 tot 3 (7–9 jaar) en graad 4 tot 7 (10–13 jaar). Inskrywings open vandag 5 Augustus en sluit 26 Augustus 2019. Die kompetisie word in samewerking met Pretoria FM aangebied.

Vir meer inligting besoek www.besigheidsbytjies.co.za

*Groepfoto van links na regs: Werner Schultz, lid van Laerskool Pierneef se beheerliggaam, Alta Strauss, Sanderien van der Walt, AfriForum se projekkoördineerder vir AfriVriendelik, Estel Terblanché van Pretoria FM, Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling en Albert van Wyk.

 

Soortgelyke plasings