|

Ironies dat ontblote minister sosiale media in SA wil reguleer

Van die wêreld se top demokratiese lande reguleer hul sosiale media.

Só het David Mahlobo, omstrede minister van staatsveiligheid, gister op ’n inligtingsessie van die kabinet se veiligheidsgroep gereageer op ’n vraag oor “vals narratiewe” wat op sosiale media geskep word.

Hy het gesê Suid-Afrika oorweeg dit om sosiale media te reguleer omdat sekere inligting wat op sosiale mediaplatforms geplaas word “skadelik” is. Hy meen “leuens en foto’s wat digitaal aangepas is”, word op ʼn onverantwoordelike wyse gebruik om inligting oor te dra wat nie getoets is nie.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ironies dat Mahlobo, wie se eie wangedrag in November 2016 op sosiale media ontbloot is, wil inspring om sosiale media te reguleer.

Dít kom ná foto’s van Mahlobo saam met ’n werknemer van die Mbombela Spa en masseersalon, wat deur die selferkende misdadiger Guan Jiang Guang besit word, verlede jaar op Facebook versprei is.

Dié werknemer, Wei Chelsea, het aangevoer sy en die minister is vriende.

Die Al Jazeera Medianetwerk het ook in ’n ondersoekende dokumentêr, The Poacher’s Pipeline, berig dat Mahlobo na bewering noue bande met Guang, een van die kernfigure in die onwettige handel van renosterhoring, het. Volgens Guang het Mahloba maandeliks sy masseersalon besoek.

Mahlobo het egter dié bewerings in ʼn verklaring ontken en gesê dat hy nie tydens sy besoek aan die salon geweet het wie Guang is nie.

Mahlobo sê verskeie van sy vriende en hoëprofiel persoonlikhede het die salon besoek en foto’s saam met Guang se personeel geneem.

Volgens Roets is dit nie die staat se plek om sosiale media te reguleer nie en het die publiek die reg om te besluit wat hulle as geloofwaardig beskou. Hy sê voorts dat die regulering van sosiale media nie prakties uitvoerbaar is nie en dat dit vermoedelik in ʼn duur reguleringsproses kan ontaard wat “fopnuus” sal bevorder eerder as beheer.

Roets het bygevoeg dat hierdie uitspraak getuig van ‘n ideologie van totalitarisme wat besig is om binne die ANC pos te vat. Hy meen dat dit ook vir die regering die geleentheid sal skep om hul eie stories te fabriseer en te versprei.

Volgens die internasionale nie-regeringsorganisasie Freedom House, wat jaarliks ʼn verslag bekend stel waarin die internetvryheid van lande gemeet word, het Suid-Afrika in 2016 ʼn punt van 25 (waar 0 die beste en 100 die swakste punt is) gekry.

Ander “top demokratiese lande” soos die VSA, Australië en die Verenigde Koningryk se punte wissel tussen 16 en 23.

Luidens die verslag het wêreldwye internetvryheid vir die sesde agtereenvolgende jaar afgeneem en word sosiale media-verbruikers in sowat 38 lande ongekende boetes opgelê of gearresteer bloot omdat hulle inligting publiseer, deel of like op Facebook.

Die organisasie het ook Suid-Afrika se besluit om by die Verenigde Nasies (VN) saam met Rusland en China te stem téén ’n resolusie om vryheid van uitdrukking op die internet te verskans, as ʼn “kommerwekkende ontwikkeling” beskryf.

In 2014 het die Suid-Afrikaanse regering ook kommer uitgespreek oor internetvryheid met die bekendstelling van konsepregulasies en die Wetsontwerp op Kubermisdaad en Kubersekuriteit. Volgens Freedom House kan dié wetsontwerp ook ʼn negatiewe impak hê op privaatheid en toegang tot inligting.

Dié wetsontwerp sal binnekort aan die parlement voorgelê word en is reeds deur die kabinet goedgekeur.

 

Soortgelyke plasings