Irrasionele verbod op buitemuurse skoolaktiwiteite opgehef

Angie Motshekga, die minister van Basiese Onderwys, het op 21 Oktober nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat die verbod op buitemuurse skoolaktiwiteite ophef, onderhewig aan sekere COVID-19-veiligheidsmaatreëls. Dít volg nadat AfriForum op 22 September ’n aanmaning in hierdie verband aan die departement gestuur en die minister versoek het om die ongegronde opskorting op te hef.

Ingevolge die nuwe regulasies mag alle nie-kontaksportoefening, -wedstryde en -aktiwiteite, asook kuns-en-kultuurskoolaktiwiteite vanaf 21 Oktober voortgaan. Daar mag egter geen toeskouers teenwoordig wees nie. Kontaksportoefening mag ook hervat word.

AfriForum se aanmaning volg ná ’n memorandum aan Gautengse skole versprei is dat alle sportsoorte vir die res van die jaar opgeskort gaan word.

Ronald Peters, AfriForum se bestuurder van Sport, sê die algehele welstand van jongmense is glad nie in ag geneem met die oorspronklike besluit nie. “Ons beskou die nuwe regulasies dus as ’n groot oorwinning vir elke leerder wat aan buitemuurse aktiwiteite wil deelneem. Sport en ander buitemuurse aktiwiteite speel ’n integrale rol in leerders se welstand en verskaf ’n mate van normaliteit nadat die hele skooljaar omvergegooi is as gevolg van die regering se hantering van die pandemie.”

Soortgelyke plasings