|

IS JOU HUIS GEDURENDE DIE FEESTYD VEILIG?

Deur Marthinus Koekemoer

Dis Desembermaand en baie mense gaan nou, ondanks ’n jaar van inperking, bietjie vir die vakansietyd wegbreek.

Vir diegene wat weggaan, en selfs vir die van ons wat met Jan Tuisbly se karretjie móét ry, is ’n baie belangrike vraag of jou huis veilig is?

AfriForum het pas ’n interaktiewe huis-en-haard-vraelys bekendgemaak wat juis poog om hierdie vraag te beantwoord.

Die doel van die assessering is om ’n aanduiding te gee van hoe veilig jou eiendom is, asook om die negatiewe punte te gebruik om die sekuriteit van jou eiendom op te skerp.

“Uit ons ervaring het ons opgemerk dat die misdaadsyfer oor die Kerstyd styg,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum. “Dis veral roof, huisbraak en diefstal wat toeneem. Die gesoute misdadiger soek eenvoudig vir die kwesbaarste woning, ongeag watter soort woning dit is. Alleenstaande wonings blyk egter die kwesbaarste te wees.”

Vrae wat op die vraelys ingesluit is, vra byvoorbeeld of ’n mens by ’n buurtwag ingeskakel is, of die erf goed belig is en of daar traliehekke voor die deure is. Daar is 30 vrae ingesluit. Vir elkeen waarop “ja” geantwoord kan word, kry ’n mens ’n punt.

“Die doel van die vraelys is nie om mense te help om hulle op hulle gemak te laat voel nie. Dit doel is eerder om aan die okkupeerder van die eiendom uit te wys hoe en waar hy die veiligheid van sy woning kan verbeter,” sê Kamfer.

“Pro-aktiewe maatreëls is die belangrikste. Eerstens moet die woning op die oog af as ’n moeilike teiken uitstaan. Behoorlike omheining, buite- en binne-sensors wat gekoppel is aan ’n funksionele alarmstelsel wat deur gewapende reaksie gerugsteun word, sal die doel dien. ’n Klein hondjie wat in die huis slaap, voeg ook baie waarde toe. Indien die huis dan geteiken word, is dié stelsels en die hondjie daar om as vroeë waarskuwing te dien.”

As iemand nie geld het om die jongste en duurste toerusting te bekom nie, wys Kamfer daarop dat doeltreffende slotte, skakeling met die bure en ’n behoorlike gebeurlikheids- of noodplan ook baie kan help. Hy moedig mense ook aan om by hul plaaslike buurtwag betrokke te raak.

En wat doen ’n mens as jy dink jou huis word geteiken?

“Daar is baie teoretiese bespiegeling rondom die sogenaamde ‘merkers’ wat voor huise geplaas word,” sê Kamfer. “Daar bestaan egter geen empiriese bewyse wat hierdie teorieë staaf nie. As jy dink jy word geteiken, moet jy jou noodplan inoefen en jou vrese aan jou sekuriteitsmaatskappy en plaaslike buurtwag kommunikeer. Dit sal ook waarde toevoeg as jy jou roetine verander.

“AfriForum help gemeenskappe om te organiseer in veiligheidstrukture. Hierdie strukture word dan deur AfriForum ondersteun en opgelei. Daar word ook gereeld inisiatiewe aangekondig soos hierdie vraelys om gemeenskappe so paraat moontlik te maak. Operasie Kerskous, wat tans op nasionale vlak uitgerol word, bestaan uit hoë sigbaarheidspatrollies om misdadigers af te skrik om op gemeenskappe toe te slaan.”

Die vraelys sal in verskeie veldtogte gebruik word om bewustheid te skep rondom veiligheid by ’n persoon se woning. Kliek hier om die vraelys af te laai en te beantwoord.

Soortgelyke plasings