IS JY MOEG VIR HAATSPRAAK EN DUBBELE STANDAARDE TEEN DIE AFRIKANER?

AfriForum neem vandeesweek deel aan die dertiende sessie van die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidskwessies. Die tema van die 2020-sessie was “Haatspraak, Sosiale Media en Minderheidsgroepe”. Om dié rede sal Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, ’n aanlyn videovoorlegging doen oor haatspraak teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika. AfriForum wil voorvalle van haatspraak uitlig, soos dié van Julius Malema van die Economic Freedom Fighters (EFF), die derde grootste politieke party in Suid-Afrika, wat tydens verskeie geleenthede liede soos “Kill the Boer, kill the farmer” gesing het.  Hierdie soort retoriek stel minderheidsgroepe se lewens in gevaar.

Hierdie tipe retoriek is ook in die ANC sigbaar, soos toe oudpresident Jacob Zuma die “Shoot the Boer”-lied gesing het tydens die viering van die ANC se 100-jarige bestaan. AfriForum het studies gedoen en bevind dat dit duidelik is dat moord en geweld teen minderheidsboere opmerklik toeneem in die maande wat op hierdie haatspraakvoorvalle volg. Dit gebeur veral wanneer dié geleenthede mediadekking kry. Daar was ’n toename in plaasmoorde in die maand nadat die voormalige president “Shoot the Boer” gesing het – daar was 16 plaasaanvalle waarin ses mense vermoor is. Ná die ontleding van vyf voorvalle van opspraakwekkende haatspraak teen wit boere, het AfriForum bevind dat plaasmoorde ’n gemiddelde toename van 74,8% getoon het in die maande nadat hierdie voorvalle plaasgevind het.

Julius Malema het sy ondersteuners in 2016 toegespreek en gesê: “Ons doen nie ’n beroep op die slagting van witmense nie, ten minste nie nou al nie.” (Engels: “We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.”). In die maand ná die uitsprake wat hy in Newcastle gemaak het oor witmense en Afrikaners, is 12 plaasmoorde gepleeg in teenstelling met die maandelikse gemiddeld van 6,25 vir daardie jaar.

In 2020 is twee massiewe byeenkomste teen plaasmoorde in die dorp Senekal gehou, nadat ’n 21-jarige plaasbestuurder wreed vermoor en aan ’n paal opgehang is. Die EFF het tydens die verdagtes se tweede hofverskyning op die dorp toegesak. Terwyl die moordslagoffer se familie in die hof gesit het, en die gemeenskap bymekaar gekom het om hul steun vir die slagoffer te toon en teen plaasmoorde te betoog, het die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” buite die hof gesing. Die lied “Burn the farmer” het ook deur die strate weerklink.

Haatspraak teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika word nie as ernstig geag nie en diegene wat hulleself daaraan skuldig maak, kom dikwels skotvry daarvan af. Haatspraak teenoor minderheidsgroepe word steeds nie deur die president of enige ander hoëprofiel-politici veroordeel as dit gebeur nie. In 2018 het president Cyril Ramaphosa selfs op ’n internasionale platform ontken dat boere in Suid-Afrika vermoor word. The ANC erken ook nog steeds nie dat daar ’n verband is tussen haatspraak teenoor boere en die vlaag van plaasmoorde in die land nie.

Daarom het organisasies soos AfriForum ingetree om die stryd teen haatspraak teenoor minderheidsgroepe aan te pak. AfriForum probeer op verskeie maniere om haatspraak teen Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe te beveg, onder meer deur navorsing, dialoog en regsoptrede. Ons brei dit ook verder internasionaal uit deur ons Die Wêreld Moet Weet-veldtog. Dit het ten doel om bewusmaking oor hierdie krisis te verskerp, en internasionale rolspelers te betrek sodat hulle ’n openbare standpunt oor hierdie kwessies sal inneem. Ondersteun ons saak, word ’n vriend van AfriForum. 

Is jy moeg vir haatspraak en dubbele standaarde teen die Afrikaner? Help AfriForum om teen die groot sondebok, die EFF, en ander haatstokers te veg. Hulle moet aanspreeklik gehou word en besef hul uitsprake dra gevolge.

Soortgelyke plasings