|

Is plan vir strenger NSFAS-beursvereistes weens AfriForm Jeug-saak oor agterstallige skuld aan studente?

AfriForum Jeug neem kennis van die beplande wysiging aan die bepalings en voorwaardes op grond waarvan toekomstige studente deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) beoordeel sal word.

Ingevolge die beoogde wysiging moet studente in die toekoms 75% van hul kursusmodules slaag om steeds finansiële ondersteuning van die skema te ontvang.

“Die voorgestelde wysiging, waar studente 75% van hul vakke sal moet slaag, word deur AfriForum Jeug sowel as belastingbetalers verwelkom,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug en NSFAS is steeds in ’n hofgeding gewikkel wat AfriForum Jeug namens studente voer wat nooit die beloofde fondse van dié skema ontvang het vir die 2020- studiejaar nie. Die saak is aangehoor in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad op 14 April 2021 en uitspraak is voorbehou. “Indien hierdie uitspraak in AfriForum Jeug se guns is, sal duisende studente waarskynlik betalings moet ontvang wat NSFAS in ’n moeilike finansiële posisie sal plaas. Dit mag moontlik bydra tot die akademiese merietebeperkings wat NSFAS nou wil instel,” voeg Pieters by.

Indien personeel, dosente of studente meer inligting ten opsigte van die beoogde wysiging het, kan hulle dit stuur na jeug@afriforum.co.za wat dit vertroulik sal hanteer.

In bogenoemde hofgeding verteenwoordig AfriForum Jeug sowat 130 studente, maar as die uitspraak in hulle guns is, sal AfriForum Jeug vir ’n hersiening kan vra sodat al 5 000 studente wat nie die beloofde befondsing ontvang het nie, en dus tans met groot bedrae onvoorsiene skuld opgeskeep sit, daarby kan baat. AfriForum Jeug het die hoop uitgespreek dat die uitspraak binnekort sal volg sodat die studente hul planne vir 2022 kan finaliseer en hulle onsekerheid eindelik uit die weggeruim kan word.

Raak vandag nog by die kampusse se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan jeug@afriforum.co.za of SMS “Kovsies” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings