|

Jaarlikse ophef oor matriekuitslae nie in beste belang van jonges

Elke jaar word die begin van Januarie gekenmerk aan ’n dramatiese ophef wat oor die matriekuitslae gemaak word.

Ek wonder of dit in ander eerste- en derdewêreldlande ook die geval is.

Moet my glad nie verkeerd verstaan nie! Natuurlik moet goeie prestasie en harde werk erken en beloon word. Maar in Suid-Afrika is die viering van middelmatigheid ’n enorme probleem wat bydrae tot die skep van valse selfvertroue onder soveel jongmense. Die Suid-Afrikaanse skoolstelsel skep selfvoldane, selfbehepte ongeletterdes, het ’n professor aan ’n vooraanstaande universiteit, dit ’n paar jaar gelede beskryf.

Die dilemma met die ophemeling van die matriekuitslae is dat ’n skewe werklikheid aan derduisende skoolverlaters voorgehou word. Die voltooiing van die skoolloopbaan word as ’n deurbraak in die lewe gesien, terwyl dit in werklikheid maar net die begin is. Soveel gr. 12’s van 2019 gaan binne die volgende twee maande tot in hul diepste wese ontnugter word, want baie gaan nie by die instellings van hul keuse en in die studierigting wat hul wil studeer, toelating kry nie. Minstens ’n derde gaan dalk wel begin studeer, maar ná ’n paar maande handdoek ingooi omdat niemand die oorgang van skool na tersiêre onderrig ooit aan hulle verduidelik het nie. Duisende ander gaan nie verstaan waarom daar geen reaksie is op die honderde CV’s wat hulle uitstuur om vir werke aansoek te doen nie. Want die hartseer werklikheid van ’n werkloosheidsyfer van byna 30% en ’n regering wat nie daartoe verbind is om die ekonomie op die regte manier te laat groei nie, was tot op hede nie in die meeste van hulle se verwysingsraamwerk nie.

Wat die situasie nog meer tragies maak, is dat amptenare en politici banale uitsprake maak wat skoolverlaters laat glo dat die skoolstelsel hulle vir die toekoms voorberei.

Ek het byna verstik toe ek Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se kommentaar gelees het oor die wonderlike “vordering” wat daar in townshipskole gemaak is en dat die gaping tussen ryk en arm skole nou net 2% is. Dit is eintlik ’n klap in die gesig van ouers en kinders wat daagliks onder die moeilikste omstandighede denkbaar skooltoe gaan.

Ek sal baie graag van Lesufi wil weet wat die afgelope 2 jaar só dramaties in township- en arm landelike skole verander het. Die meeste mense wat op grondvlak leef, weet onderwysers en hoofde wat oor jare laks was om hul kant te bring, het nie oornag ’n passie vir hul werk ontwikkel nie. Handboeke en ander hulpbronne wat vir jare nie by sukkelende skole uitgekom het, het nie nou skielik uit die lug geval nie.

Kinders wat jare lank met lees- en skryfvaardighede sukkel omdat hulle nie in hul moedertaal onderrig is nie, het sekerlik ook nie nou skielik bedrewe in Engels geraak nie.

Die leuen oor ’n fantastiese skoolstelsel gaan Suid-Afrika iewers in die toekoms inhaal. Hierdie jongmense wat nou met skool klaargemaak het en dalk nog naïef genoeg is om te glo dat wonderlike geleenthede op hulle wag, sal oor ’n paar jaar deel van die miljoene ontnugterde werkloses wees. En dan sal die ANC-regering steeds voortgaan om hulle met valse beloftes te breinspoel in ’n poging om hul stem te kry om aan bewind te bly.

As ons jongmense, en veral diegene wat pas matriek voltooi het, ’n guns wil doen en hoop wil gee, is dit om selfstandigheid onder hulle te bevorder. Ons moet hulle aanmoedig om elke denkbare geleentheid te gebruik, elke dag hard te werk en hul gawes en talente te gebruik om entrepreneurs te word om vir hulself ’n toekoms te skep. Aan diegene wat in die afgelope eksamen uitgestyg en uitmuntend gevaar het, wil ’n mens natuurlik ook sê: Hou aan om julle drome na te jaag sodat julle blywend suksesvol kan wees om ook julle roeping te kan uitleef.

Soortgelyke plasings