|

Jaco Swart skuldig bevind aan aanranding

Jaco Swart is vandag skuldig bevind aan aanranding met die doel om sy vervreemde vrou, Nicoleen, ernstig te beseer. Die Pretoria-Noord Streekhof het Swart gevonnis tot ’n boete van R20 000, sowel as drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het Nicoleen kragtens ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak verteenwoordig.

Swart het skuldig gepleit op twee klagtes nadat hy in die gesig gestaar is deur ’n onaanvegbare saak wat beeldmateriaal van sy gewelddadige misdrywe insluit. Kringtelevisie-beeldmateriaal van hul besigheidsperseel wys hoe Swart sy vrou in 2018 slaan, stoot en skop. Van hierdie wrede aanvalle het voor die paartjie se twee kinders plaasgevind.

Die saak is voorheen van die rol geskrap. Daarna het Nicoleen en haar familie die Privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Adv. Gerrie Nel en sy span het vertoë gerig aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) en aangedui dat hulle bereid is om privaat vervolging in te stel. Daarna het die DOV in Mei 2021 beveel dat die beskuldigde summier vervolg moet word.

Die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag het aansoek gedoen dat die beeldmateriaal toegelaat moet word as verswarend ten opsigte van vonnis, maar die hof het dit verbied nadat die verdedigingspan die egtheid daarvan bevraagteken het. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het gehoop dat meer gedoen sou word om toe te sien dat die beeldmateriaal op rekord geplaas word sodat die landdros eerstehands Swart se gewelddadige optrede teenoor sy vrou kon sien.

Na afloop van die verrigtinge, het Nicoleen gesê: “Alhoewel ek teleurgesteld is in die vonnis wat die hof opgelê het, is ek verheug oor die skuldigbevinding. Dit stuur ’n sterk boodskap uit aan vrouens dat hulle moet opstaan teen geslagsgebaseerde geweld en dat daar altyd ’n gewillige oor is wat bereid is om te luister.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van die Privaatvervolgingseenheid het gesê: “Ons word gekonfronteer met die lippediens van die strafregstelsel teen geslagsgebaseerde geweld, asook ’n gebrek aan toewyding en bekwaamheid om na behore na die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te sien. Ons wil egter Nicoleen Swart se lof besing omdat sy besluit het om nie ’n slagoffer te wees nie, maar haar stem te laat hoor.”

Soortgelyke plasings