|

Jeug het groot rol te speel in AfriForum en die land se toekoms

Die boodskap uit die afgelope naweek se jaarlikse AfriForum Jeugkongres wat in Pretoria gehou is, is duidelik dat die jeug ’n groot rol het om te speel in die toekoms van beide AfriForum en die land in sy geheel.

Sowat 80 jeugverteenwoordigers van regoor die land het die kongres bygewoon.

‘n Belangrike vraag vandag is hoe die jeug die onsekere toekoms tegemoet moet gaan.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het dié netelige kwessie opgesom in die woorde van Franklin D. Roosevelt naamlik dat ons nie noodwendig ’n toekoms vir die jeug kan bou nie, maar dat ons die jeug vir die toekoms kan bou.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake

Bailey sê ’n lewenslange leerkultuur moet by die jeug gekweek word. “’n Mens moet jou avontuurlus behou en waagmoed binne grense hê, maar alles in jou geloof, taal en kultuur geanker. Dis belangrik om ’n opinie te hê, maar jy moet ook weet hoekom jy daardie opinie het en jy moet dit kan verdedig. Neem verantwoordelikheid vir wat belangrik is anders gaan iemand anders vir jou besluite neem.”

Sy sê ook daar is niks daarmee verkeerd om te huil as jy platgeslaan word nie, maar jy moet weer opstaan. Voorts het sy beklemtoon hoe belangrik dit vir Afrikaners is om saam te staan.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in sy praatjie beklemtoon hoe belangrik dit vir die jeug én ouer persone is om te bewaar wat hulle gekry het. “Edmund Burke het verwys na die verbond tussen geslagte. Ons moet bewaar, verbeter en aangee. Die reis na die toekoms begin in die verlede.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Hy het verskeie ander skrywers aangehaal om die boodskap oor te dra dat elke generasie dink hulle weet meer en beter as die een wat voor hulle gekom het. Maar dit bly wys om uit die lesse van die verlede te leer.

Buys het opvoeding en opleiding ook beklemtoon en gesê: “Opleiding gee jou ‘n werk, opvoeding ‘n loopbaan én snelweg…”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê AfriForum Jeug is ’n voedingsbron vir die toekoms en ’n lekker ruimte vir jong Afrikaners om bymekaar te kom. “Ons moet heeltyd vernuwend dink. Die demografie waarin ons onsself bevind, bepaal die plan wat ons moet gebruik.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kriel sê AfriForum moet sy planne versnel soos wat staatsverval al hoe verder en vinniger uitbrei. “Ons is ten gunste van federalisme waar elke gebied ’n groter sê moet hê oor hul eie sake en oor hoe hul belastinggeld aangewend word. Sentralisme is die wortel van alle kwaad.”

’n Ander tema wat ook aandag geniet het, is die dat ons self dinge kan doen, maar nie alleen nie.

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum, het verwys na verskeie kere uit die verlede wat Afrikaners met ander gemeenskappe saamgewerk het en hoe dít vandag steeds nodig is vir Afrikaners om vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika te leef.

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum

“Die Afrikaner se werklikheid en uitdagings is tweeledig in die sin dat ons verspreid en tussen ander gemeenskappe woon. Ons moet dus vriende maak om toekomstige konflik te vermy om sodoende ’n veilige en vreedsame naasbestaan te verseker, want ons kan dit nie op ons eie doen nie. Wedersydse erkenning en respek is belangrik. Ons moet ook selfstandigheid bevorder eerder as om van die staat afhanklik te wees.”

“Opleiding gee jou ‘n werk, opvoeding ‘n loopbaan én snelweg…”

Kriel het AfriForum se standpunt saamgevat deur te sê: “Ons is idealisties en optimisties en ons gaan nie die ANC-regering vir toestemming vra nie, ons gaan net ons planne uitvoer.”

Soortgelyke plasings