|

Jeug in vervoering oor AfriForum-leierskamp

 

Meer as 50 hoërskoolleerlinge wat tans die burgerregte-organisasie se heel eerste leierskapsontwikkelingskamp by Mooikrans Equus in Amersfoort, Mpumalanga, bywoon, kan nie uitgepraat raak oor hoeveel dié ervaring vir hulle beteken nie.

Volgens Salet Scheffer, koördineerder van die kamp, is dit ’n droom wat waar geword het sedert die eerste gesprekke drie jaar gelede met Elna Wahl, eienaar van Mooikrans, begin het.

Scheffer sê die omgewing is baie mooi en die stilte en ruimte bied ’n groot rustigheid vir die leerlinge. Sy is opgewonde oor haar taak en het ’n passie om jongmense meer oor Afrikanerskap en trots bewus te maak.

Die leerlinge wat die kamp bywoon, kom van sover as Australië, Mosselbaai, Clanwilliam en Lichtenburg.

Die kamp is daarop gemik om leerlinge onder meer oor die geskiedenis te leer en om hulle met bepaalde vaardighede vir die toekoms toe te rus.

Tydens die kamp, wat op Christelike waardes gegrond is, bied verskeie kenners lesings aan oor kwessies soos Afrikaner-geskiedenis, entrepreneurskap, konflikhantering, probleemoplossing, studentelewe op universiteit, kommunikasie en paraatheid en selfverdediging.

Leerlinge kry ook geleentheid om aan avontuur-aktiwiteite soos perdry deel te neem.

Volgens Scheffer leer die kinders baie oor hulself asook wat hul sterk- en swakpunte is. “Ons sien beslis hier hoe hul selfvertroue stelselmatig opgebou word.”

Soortgelyke kampe word vir volgende jaar beplan, wat aansluit by AfriForum se visie om jeugportefeuljes ook by plaaslike takstrukture in te bring om sodoende die jeug meer betrokke by gemeenskappe te maak.

Hattingh Coetzee (17) van Bethlehem in die Vrystaat, het gesê dit is die heel eerste keer in sy lewe wat hy perdgery het. “Ek het baie nuwe mense leer ken en geniet die verskillende soorte mense. Die personeel is baie vriendelik en doen ook baie moeite met die kursus en aanbiedings.

“Ek hou van AfriForum, want ek glo hulle doen goeie werk. As ek terug huis toe gaan, sal ek net goeie dinge oor die kamp te sê hê.”

Lindie von Molendorff (18) van Dundee in KwaZulu-Natal, het gesê sy het baie oor AfriForum en die organisasie se werksaamhede geleer. “Die perde is die lekkerste aktiwiteit wat ek die meeste geniet. Dit is vir my baie lekker om in die natuur tussen diere te wees. Ek het baie nuwe vriende gemaak. Die kamp het my aangegryp en ek dink baie kinders moet van die geleentheid gebruik maak.”

Freddie Barnard (19) van Spring, se ervaring is dat hy baie van perde geleer het en ook hoe om hulle te hanteer.

“Ek het op die kamp baie oor aktivisme geleer en ook hoekom dit so belangrik is. Hierdie kamp is ’n belewenis en ek het goeie vriende van Pongola, Pretoria en Ermelo gemaak.”

Wahl bied hierdie kamp die afgelope 17 jaar aan om “hoop te bring vir Afrikaner-kinders en om vir hulle hoop te gee vir hul toekoms in die land. As daar een ding is wat ek hiermee wil bereik, is dit om vir hulle te leer dat jy moet trots wees. Met trots kan jy enigiets aanpak. Trots kweek selfvertroue en ons as Afrikaners het rede om trots te wees.”

 

Soortgelyke plasings