| |

Jeuglede van AfriForum se Bothaville-tak tel vullis op

Die jeugvleuel van die AfriForum-tak in Bothaville het op 21 Januarie 2022 die dorp skoongemaak deur vullis op te tel. Die jeugvoorsitter, Henno Nel, het met ’n span van tien hoërskoolleerders die deel tussen die dorp en Meyerhof, asook ’n paar omliggende strate, getakel en vullis opgetel. Hulle het ’n 2,5 km area skoongemaak en altesaam 20 kunsmissakke vol vullis opgetel.

“Dit is vir my lekker om te sien hoe ons as jongmense inspring en hande vat om saam ’n verskil in ons gemeenskap te maak. Ons kan nie net terugsit en kyk hoe ons dorp in ’n ashoop omskep word nie. Baie dankie aan almal wat gehelp het,” sê Nel.

“Dit maak ’n mens se hart warm dat jongmense hande opsteek en iets daadwerklik doen om die toestand van die dorp te verbeter. Ek glo dat daar by die volgende geleentheid sommer baie meer jongmense sal wees en dat die volwassenes sal aansteek en hand bysit. As ons so voortgaan, is Bothaville eersdaags weer ’n spogdorp,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings