|

JJ Cassanga, tweede Clover-veiligheidswag sterf

Dit is met groot spyt en hartseer dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid die afsterwe van JJ Cassanga bevestig. Cassanga het op Dinsdag 28 Junie by sy dokter se spreekkamers ineengestort. Cassanga is erg aangerand in dieselfde voorval wat gelei het tot die moord op Terrence Tegg tydens ’n gewelddadige staking by Clover se sakeperseel in Olifantsfontein op 17 Februarie vanjaar.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan vir Michele Bebbington, wat aan Tegg verloof was, asook die Cassanga-familie by om te verseker dat die saak die aandag kry wat dit verdien.

Cassanga se familie sê hy het ernstige koptrauma en breinbeserings in die aanranding opgedoen en het sedertdien aan stuipe en hoofpyne gely. Cassanga het glo Dinsdag van erge hoofpyn gekla en het gevra om na sy dokter geneem te word. Hy het in die spreekkamers inmekaargesak en is dood verklaar. Cassanga word oorleef deur vier kinders.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ’n beroep op die polisie gedoen om ’n deeglike ondersoek te doen. “Ons het ’n beroep op die polisie gedoen om te verseker dat ’n lykskouing gedoen word om vas te stel of daar voldoende bewyse is van ’n verband tussen die aanranding en Cassanga se uiteindelike dood. Ons betuig ons innige meegevoel met Cassanga se geliefdes, en ons sal voortgaan om die families van die oorledenes in hierdie saak te ondersteun.”

Die vyf mans wat van Tegg se moord en die aanranding op Cassanga beskuldig word, sal weer in die Tembisa-landdroshof verskyn vir ’n voortsetting van ’n borgtogaansoek vir drie van die beskuldigdes.

As die bewyse in die ondersoek ’n verband tussen die aanranding en Cassanga se dood onthul, sal die beskuldigdes ’n tweede aanklag van moord in die gesig staar.

JJ Cassanga

Soortgelyke plasings