|

JONGES BEWYS HULLE HET KOP VIR SAKE

Die AfriForum-span en beoordelaars.

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Kian Smuts (9), Jayden Barnard (13) en Elsa Vermooten (14) het bewys dat jy nooit té jonk is om jou entrepreneuriese vaardighede te begin ontwikkel nie en vanjaar weggestap as wenners tydens die tweede Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie, ’n inisiatief van AfriForum.

Dié jong entrepreneurs het met laerskool- en hoërskoolleerders van oor die land heen meegeding om te kyk wie die beste produk of diens suksesvol kan ontwikkel, bemark en verkoop.

Die inskrywings het op 1 April 2020 geopen en het weer op 30 Oktober 2020 gesluit. Elke leerder wat aan die kompetisie deelneem word deel van die Byekorf. Die kompetisie het aanlyn by www.besigheidsbytjies.co.za plaasgevind en leerders kon in die gemak van hul eie huis inskryf. Die publiek het in November die geleentheid gekry om vir hul gunstelingentrepreneur te stem waarvan hul stemme 50% van die totale stemme tel en die beoordelaars het op 27 November 2020 die deelnemers beoordeel wat die ander 50% bepaal. Wenners en naaswenners het elkeen ’n kontantprys en ’n Samsung-tablet of  koordlose luidspreker ontvang.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, wil AfriForum mense én kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is ’n verskil in die gemeenskap te maak. “Ons wil hê kinders moet besef hulle kan eendag ‘die baas’ wees, mits hulle hard werk aan hul idees en die uitvoering daarvan. Daarom moet hulle hul na entrepreneurskap wend, en dié vernuf moet sommer op die laerskoolbanke gekweek word.”

Leandie Bräsler, bestuurder van juniorjeugleierskapsontwikkeling by AfriForum, sê die burgerregte-organisasie glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hul leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. “Die kinders van vandag is immers die leiers van die toekoms en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.”

Kian, ’n gr.3-leerling van Laerskool Pretoria-Oos, het die grondslagfase-kategorie gewen met sy sywurm-besigheid, Sywurms vir Afrika, terwyl Jayden Barnard, ’n gr.7-leerling van Laer Volkskool Heidelberg, se honde-stapdiens, Swaaistert, die beste in die intersenfase-kategorie was.

Volgens James Barnard, Jayden se pa, stap die gesin graag met hul hond en klein Jayden het besluit om hul bure, wat nie so gereeld met hul eie honde kan stap nie, te help deur hulle honde óók in die middae saam te neem. Só het sy besigheid begin en vandag vat Jayden talle honde in sy woonbuurt vir hul daaglikse stappie. Jayden gaan ook nie sy prysgeld op nuwe speelgoed of rekenaarspeletjies spandeer nie, maar eerder nóg ’n besigheid begin.

Elsa Vermooten, ’n 14-jarige tuisonderrigleerling en bobaas bakster het met haar besigheid, Smul, die hoërskool-kategorie gewen. “Ek het twee jaar terug begin om beskuit bestellings te neem en te verkoop. Ek hou van uitdagings, so ek het toe begin om te eksperimenteer met skuimpies, macaroons en om koeke vir kinderpartytjies te versier. Ons het ook ’n jaar en half terug begin om koeke vir ’n winkel in die dorp te bak, wat hulle per stuk verkoop. Mense het van dit gehou en toe begin om koeke direk by my  te bestel,” vertel Elsa oor haar besigheid. Sy koop ook graag haar bestanddele by plaaslike boere en is soos Jayden ook nie haastig om haar prysgeld te spandeer nie, maar dit eerder in haar besigheid terug te ploeg.

Volgens Rhona Erasmus, beoordelaar en eienaar van Midstream College Babahuis en mede-eienaar van beide Pienkvoet Pret en Trouvaille Boutique Day Spa, is die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie ’n ongelooflike inisiatief omdat dit kinders van jongs af leer én lei om hul entrepreneuriese vaardighede te ontwikkel. “Dit is uiters belangrik, veral gegewe die tydperk waarin ons leef, dat kinders hierdie soort vaardighede ontwikkel en sodoende hul eie toekoms kan verseker. Ek was uiters beïndruk met die feit dat die wenners se planne nie net innoverend was nie, maar ook prakties uitvoerbaar en winsgewend is.”

Haar advies aan ouers is om hul kinders toe te laat om innoverend te dink en hul nie in ’n boks te druk nie. Vir kinders sê sy dat hulle nie bang moet wees om anders te wees nie, omdat hul uniekheid hul juis sal laat uitstaan.

Soortgelyke plasings