|

Nuuskommentaar: Jou stem kan help om Afrikaanse skole soos Laerskool Van Wykskraal te red

AfriForum se veldtog teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys laat opnuut die kollig op die noodsaak van moedertaalonderrig val.

In baie gevalle is Afrikaanse skole oor die afgelope twee dekades gedwing om dubbel- of parallelmediumonderrig in te stel. Aanvanklik klink dit goed. In die dubbelmedium skole doen die onderwysers hulle bes om alles tweetalig te doen. In die parallelmedium skole is daar dikwels net een klas wat Engels is en alles verloop glad.

Ongelukkig is dit nie volhoubaar nie. Wêreldwyd is herhaaldelik bewys dat hierdie soorte onderrig altyd uitloop daarop dat die sterkste van die twee tale uiteindelik in die skool oorheers. In die dubbelmediumskool word die onderwysers moeg vir die herhaling en die kinders begin al meer van die sterker taal verstaan omdat hulle ook buite die klaskamer daaraan blootgestel word. Die maklikste is dan om maar na een taal oor te skakel. Dieselfde geld vir parallelmediumskole. Een klasgroepie word meer en later is die aanvraag vir die Engels só groot dat “koste gespaar word” deur te verengels. Die Afrikaanse kinders moet dan Engelse onderrig aanvaar, wat oor die kort- én langtermyn nie in hulle beste belang is nie, of elders ’n heenkome soek.

Skole se toekoms behoort aan die gemeenskappe waarin hulle diens lewer, en nie aan magshonger amptenary of haatdraende ideoloë nie.

In stede is daar heelwat skole en dus kan die kinders wat moedertaalonderrig kies, gewoonlik ’n ander Afrikaanse skool vind. Op die platteland is die uitdaging groter.

Tans staan die Afrikaanse ouers van Laerskool Van Wykskraal voor hierdie uitdaging (om maar net een van vele skole in dié netelige posisie te noem). Die skool word beskryf as “’n juweel in die Bosveld”. Dit is buite Thabazimbi geleë en het in 1924 met sewe leerders as ’n privaatskooltjie in die waenhuis van ene mnr. Jonker op die plaas Van Wykskraal begin. In 1927 het die Transvaalse Onderwysdepartement die skool oorgeneem. ’n Mnr. Coetzee is toe as die eerste provinsiale onderwyser daar aangestel, maar sy bydrae was van korte duur. In Januarie 1927 het hy met sy trapfiets, tas en klere by die skool opgedaag. Die volgende oggend was hy egter skoonveld. Later het dit aan die lig gekom dat hy geweier het om op hierdie “godverlate plek” skool te hou. Hy is sak-en-pak met sy fiets en al weg om sy teleurstelling aan die skoolraad te gaan oordra.

Gelukkig het sy opvolgers nie hierdie siening gedeel nie en deur die loop van meer as negentig jaar is die skool uitgebou tot die trotse instelling wat dit vandag is, met gelukkige kinders wat hulle prestasies op hoërskool en tersiêre vlak voortsit, gebou op die stewige fondament van die moedertaalonderrig wat hulle hier geniet. Met akademie, kultuur en sport gaan die skool van krag tot krag.

Vir etlike jare al plaas die Departement van Basiese Onderwys ongelukkig druk op die skool en die nabygeleë Rabugale Primary School om saam te smelt. Die beheerliggame, onderwysers en ouers van beide skole is nie ten gunste van so ’n samesmelting nie. Hulle doen gevolglik ’n beroep op die gemeenskap en almal wat ’n belang by hulle skole het om hulle te steun om die samesmelting te keer. Met die doel het hulle ’n petisie geskep wat hier onderteken kan word.

Hierdie skole se geskiedenis en huidige uitdaging is weer ’n bewys waarom die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys teengestaan moet word. Ouers, leerders, onderwysers en die gemeenskap moet deur hulle verkose beheerliggame kan nee sê vir die druk van die onderwysdepartement wat prosesse soos hierdie probeer stoomroller.

AfriForum doen ’n beroep op alle belanghebbendes om Laerskool Van Wykskraal en Rabugale Primary School se voortbestaan te help verseker deur hulle petisie te onderteken, maar ook om standpunt teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys in te neem.

Skole se toekoms behoort aan die gemeenskappe waarin hulle diens lewer, en nie aan magshonger amptenary of haatdraende ideoloë nie.

Soortgelyke plasings