|

Julius Malema vervolg ná AfriForum-klag

Alet Rademeyer

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom dit dat Julius Malema, leier van die EFF, uiteindelik vervolg gaan word ná gewraakte grondgryp-uitlatings wat hy in Desember 2014 in Bloemfontein gemaak het.

Die uitlatings het Malema uiteindelik duur te staan gekom nadat hy vanmiddag strafregtelik aangekla is van aanhitsing om ’n misdaad te pleeg.

Malema se vervolging vloei voort uit klagtes wat AfriForum in Desember 2014 teen hom ingedien het toe hy sy ondersteuners by ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset.

Malema word gedagvaar om op 14 November in die streekhof in Bloemfontein te verskyn. Die saak is deur die Valke ondersoek en ’n dagvaardiging is kort nadat hy vanmiddag ’n perskonferensie in Johannesburg gelei het op hom beteken.

Hy het oor die #Feesmustfall-gebeure by universiteite en die moontlike vervolging van Pravin Gordan, minister van finansies gepraat. Malema het onder meer gesê dat die ANC Suid-Afrika tot ’n piesangrepubliek verlaag het.

Die klag deur AfriForum is vroeër teen Malema ingedien op grond van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond ingevolge waarvan dit onwettig is vir ’n persoon om grond te beset sonder die toestemming van die eienaar of persoon in beheer van die grond.

Nantes Kelder, hoof van ondersoeke by AfriForum, het die besluit om Malema te vervolg verwelkom.

“In ’n land soos Suid-Afrika wat deur wetteloosheid geteister word, stuur hierdie ’n sterk boodskap uit dat opgetree sal word teen enigiemand wat misdaad aanmoedig. Ons verwelkom dit dat Malema vervolg gaan word.”

Soortgelyke plasings