|

JY HET NOG NET ’N PAAR DAE OM TEEN DIE ANC SE VOORGENOME WYSIGINGS AAN DIE VUURWAPENWET BESWAAR TE MAAK!

Deur Alet Rademeyer

Die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens is daarop gemik om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. Dit is ’n skreiende skande wat met alle mag en krag teengestaan moet word.

AfriForum het met ’n omvattende #MyVuurwapenIsMyne-veldtog (www.myvuurwapen.co.za) begin teen die drakoniese voorgestelde wysigings en sal net soos opposisiepartye en ander burgerlike organisasies dit tot in die hoogste hof beveg. Die wysigings kom basies neer op die ontwapening van burgers en word as roekeloos en irrasioneel bestempel. AfriForum gaan vandeesweek omvattende kommentaar teen die wysigings indien. Jy kan ook die petisie teken by www.myvuurwapen.co.za

Die wysigings is in Mei in die Staatskoerant afgekondig.

Bheki Cele, Minister van Polisie, het veral deurgeloop en is daarvan beskuldig dat hy totaal uit voeling met die situasie in die land is. Met die voorgestelde wysigings wil hy mense se reg om hulself te beskerm beperk, terwyl hyself daagliks deur talle gewapende lyfwagte beskerm word. Wat die voorstelle nog meer skreiend maak, is dat gewone mense se vuurwapenbesit ingeperk word, terwyl die SAPD se begroting vir die BBP-beskermingseenheid met sowat R2 miljard verhoog is.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, sê burgers moet oor die vermoë beskik om hulself en hul gesinne binne die raamwerk van die wet teen misdadigers te beskerm. “Hierdie konsep, in sy huidige formaat, sal tot gevolg hê dat burgers weerloos gelaat word in ’n land waar die SAPD reeds ruiterlik erken het dat hulle nie oor die vermoë beskik om die burgers van die land teen ’n misdaadvlaag te kan verskans nie.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, wys daarop dat die ANC en die ministers van Polisie sedert die wet in 2000 gewysig is uitgesproke daaroor was dat hulle burgers wil ontwapen. Hy meen nóg ’n rede waarom die regering dit wil doen is weens die totale chaos en wanbestuur by die Sentrale Vuurwapenregister (SVR). “Die polisie het eenvoudig nie die vermoë om vuurwapenbesit te bestuur óf burgers te beskerm nie.”

Daar is verskeie redes waarom die wysigings gestop moet word en waarom landsburgers hulself moet kan beskerm. Enkeles wat in ag geneem moet word, is dat meer mense in Suid-Afrika deur messe en ander skerp voorwerpe gedood word as deur vuurwapens. Daarbenewens is Suid-Afrika se moordsyfer (36 per 100 000) vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld (7 per 100 000).

Sedert die begin van die jaar tot einde Mei was daar reeds 19 plaasmoorde en 148 plaasaanvalle. Verlede jaar was daar 63 plaasmoorde en 384 plaasaanvalle.

Hoe raak die voorgestelde wysigings jou?

  • Selfverdediging sal nie as rede aangevoer kan word om ’n vuurwapen te bekom nie.
  • Jag- en sportvuurwapens word beperk selfs al het jy toegewyde status. ’n Totaal van ses vuurwapens word toegelaat as jy toegewyde status het en steeds vier as jy dit nie het nie. Die samestelling van die ses of vier vuurwapens word ook beperk. Nie meer as twee daarvan mag byvoorbeeld haelgewere en/of handwapens wees nie.
  • Die besit van herlaaitoerusting word verbied.
  • Geen vuurwapens mag sonder ’n spesiale permit vervoer word nie. Indien jy wil gaan jag of skietbaan toe gaan, moet jy ’n permit hê.
  • Jy mag nie iemand onder die ouderdom van 16 jaar toelaat om jou vuurwapen te hanteer onder jou direkte toesig nie.
  • Niemand, nie eens diegene met toegewyde status, mag meer as 100 rondtes ammunisie per vuurwapen in sy/haar besit hê sonder ’n spesiale permit nie.
  • Die verkryging en instandhouding van toegewyde status word moeiliker gemaak.
  • Privaat vuurwapenversamelings word in totaliteit geskrap en slegs openbare versamelaars word erken.
  • Vuurwapenlisensies vir jag en/of sport wat onbeperk was moet nou elke vyf jaar hernu word.
  • Voordat ’n vuurwapen na iemand oorgedra word, moet dit vir ballistiese toetse ingehandig word.
  • Indien ’n persoon in enige stadium ’n beskermingsbevel teen hom/haar gehad het, word hulle as onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
  • Die minister kry baie wye magte om die invoer van vuurwapens en ammunisie te beperk.
  • Voornemende sportskutte, toegewyde jagters en professionele jagters moet vir bevoegdheidsertifikate aansoek doen om dié status te bekom en/of te behou. Voorts word daar strenger na die doen en late van persone gekyk om seker te maak dat hulle vir dié status kwalifiseer.
  • Semi-outomatiese gewere en haelgewere val nou onder die definisie van “beperkte” vuurwapens. Dit word aansienlik strenger gereguleer en kan net in uitsonderlike omstandighede besit word. Die registrateur het die bevoegdheid om die ammunisie wat hy/sy as verbode ammunisie ag só te verklaar, wat beteken dat dié ammunisie glad nie aangekoop of vervaardig mag word nie.
  • Bevoegdheidsertifikate en lisensies kan aan persone jonger as 21 jaar, maar ouer as 18 jaar uitgereik word as dié persone goeie redes kan gee waarom hulle daarvoor kwalifiseer. Voorbeelde van dié redes is as hulle dit nodig het vir hul sakeonderneming of die status van ’n toegewyde jagter of sportskut het.
  • Daar word beoog om ’n “Consultative Forum” in die lewe te roep wat onder andere bestaan uit die hoof van die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) en senior personeel van PSiRA (Private Security Industry Regulatory Authority).

Soortgelyke plasings