|

Jy kan help om bendenetwerk binne Eskom te ontbloot

Solidariteit het vandag ’n fluitjieblaasportaal geloods om korrupsie by Eskom te ontbloot.

Dié portaal sal werknemers van die kragreus bemagtig om korrupsie bloot te lê, terwyl hulle self van intimidasie beskerm word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is daar nog baie goeie mense wat by Eskom werk, maar daar is niks so gevaarlik soos goeie mense wat stilbly nie. “Ons weet daar is ’n bendenetwerk binne Eskom wat hulself verryk terwyl gewone Suid-Afrikaners in die donker sit en ons wil die goeie mense beskerm wat die fluitjie teen korrupsie wil blaas,” sê hy.

“Mense vertrou nie Eskom se eie stelsels om korrupsie aan te meld nie en dis hoekom ons hierdie portaal geskep het. Ons wil die korrupsiesuurstofpype toedraai.”

Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van Arbeidsverhoudinge by Solidariteit, sê daar is vyf probleme wat by Eskom geïdentifiseer is wat onder meer daartoe bydrae dat die maatskappy vanjaar vlak 4-beurtkrag moes instel. Hy noem BBBEE-praktyke (Broad-based Black Economic Empowerment), die rompslomp by die tesourie om fondse te bekom, voorkeur wat aan sekere kontrakteurs gegee word om werk te doen, diefstal en sabotasie as probleme wat Eskom ’n klomp geld kos.

Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van Arbeidsverhoudinge by Solidariteit

“Dit is onmoontlik vir drie opwekkingseenhede by een kragsentrale om gelyktydig onklaar te raak as daar nie sabotasie betrokke was nie.

“Ons het ook gehoor van ’n geval waar veiligheidstoerusting teen nagenoeg 1 400% meer as die gewone prys aangekoop is. Diefstal en sabotasie het onder meer ’n groot rol gespeel met die vlak 4-beurtkrag wat hierdie jaar ingestel is,” verduidelik Reyneke.

As ’n fluitjieblaser ’n klagte by die portaal aanmeld, sal ondersoek ingestel word voor daar besluit word op watter proses gevolg moet word om teen skuldige partye op te tree. Daar word verwag dat daar binne 21 dae aan die persoon wat die klagte aangemeld het, terugvoer gegee sal word.

Plunderaars moet hoor hulle gaan nie meer beskerm word nie en ons wil hulle in oranje pakke sien.

Dirk Hermann

Hermann noem daar is reeds verskeie Solidariteit-lede wat klagtes oor korrupsie en sabotasie by Eskom by die vakbond ingedien het. Hy verwag dat die sluise vir die indiening van klagtes nou gaan oopgaan. Solidariteit sal mense wat wil uitpraat lei en beskerm.

Hermann sê daar is reeds met adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid kontak gemaak om die vervolging van die voormalige Eskom-hoof Brian Molefe te oorweeg. Volgens Solidariteit moes Molefe strafregtelik vervolg gewees het vir sy aandeel in die pensioendebakel.

“Wat hierdie portaal uniek maak, is dat die vakbond intree. Ons hoop om die kultuur van korrupsie te verander. Plunderaars moet hoor hulle gaan nie meer beskerm word nie en ons wil hulle in oranje pakke sien. Julle kon voorheen plunder, maar nie meer nie,” sê Hermann.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Alhoewel hierdie platform met ’n spesifieke fokus op Eskom geloods is, sal enige iemand by ’n staatsonderneming, of selfs by ’n privaatinstelling, die fluitjie teen korrupsie hier kan blaas. Solidariteit sal op gereelde basis verslae oor tendense van korrupsie wat aangemeld is, aan die publiek bekend maak sonder om fluitjieblasers bloot te stel.

Kliek hier om korrupsie aan te meld.

Soortgelyke plasings