|

Kaapse Forum nader Wes-Kaapse premier oor moontlikheid van referendum

Die Kaapse Forum het vandag tydens sy amptelike bekendstelling in die Kaap ook sy eerste groot projek aangekondig.

Volgens Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, geniet polisiëring prioriteit in die Wes-Kaap en ’n brief is reeds aan Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gestuur waarin hy genader is oor die moontlikheid om ’n referendum in die provinsie uit te roep waarin gevra word dat die nasionale polisiemagte na die provinsie afgewentel word en dat nasionale tesourie die geld vir polisiëring in die Wes-Kaap direk aan die provinsie oorbetaal. Van die redes hiervoor is omdat daar 5 000 vakante poste in die polisie in die provinsie is en omdat daar ernstige vrae is oor waarom die owerheid nie geld vir polisiëring aanwend in die stryd teen bendebedrywighede in die Wes-Kaap nie.

Volgens Wyngaard is daar twee menings oor of ’n premier by magte is om ’n referendum uit te roep. Indien dit nie gedoen kan word nie, sal die Kaapse Forum die howe nader om uitsluitsel te kry.

Wyngaard het verdraaide sienings in die media en kritiek oor wat die werklike redes vir die totstandkoming van Kaapse Forum is getakel en herhaal dat Kaapse Forum nié ’n “Bruin AfriForum” is nie en dat die organisasie hom allesbehalwe beywer vir afstigting of onafhanklikheid van die land nie.

“Groeiende federalisme word verkeerdelik gesien as ’n plan om van die Republiek van Suid-Afrika te probeer wegbreek.

“Ons wil en gaan fokus op sake wat alle gemeenskappe in die Wes-Kaap saambind. Ons wil sterk, selfstandige gemeenskappe met ’n selfhelp-ingesteldheid skep om onder meer armoede te bekamp, gemeenskapsekonomieë uit te bou, veiligheid te verseker en gemeenskappe daar te stel wat goed funksioneer.”

Volgens Wyngaard is die Kaapse Forum gestig in reaksie op die staat waarop niemand meer staat kan maak nie.

Hy het gesê die stigting van die Kaapse Forum is ’n historiese oomblik, net soos wat die koms van Jan van Riebeeck en sy geselskap na die Kaap was waar hy die inheemse mense (op 6 April 1652) vir die eerste keer ontmoet het.

Hy het ’n skildery van dié ontmoeting (deur Charles Bell en wat ook in die Kaapse Forum se kantoor hang) voorgehou en gesê dit is ’n uitbeelding van ’n mengsel van wat ’n mens kry wat oor die jare beskryf is as meerderwaardigheid teenoor eerbiedigheid en ’n manifestering van sogenaamde Westerse of Europese kleredrag, houdings en voorkoms teenoor die plaaslike veronderstelde ongekultiveerde heidense barbare.

Die klippe wat daar in die verlede na mekaar gegooi is, moet nou omgeskakel word in bakstene waarmee ons mekaar ondersteun.

“Maar vandag vra en reflekteer ons oor die Hollandse kolonialiste én die Engelse oor wat hulle die reg gegee het om neer te sien op die inheemse bewoners van die land. Dit het egter nie daar gestop en nie rassediskriminasie onder apartheid het gevolg.

“Nog meer historiese momente het gevolg in 1990 met F.W. de Klerk se toespraak, 1994 toe alle Suid-Afrikaners vir die eerste keer in die geskiedenis toegelaat is om na die stembus te gaan en te stem gevolg deur die politieke gevangene Nelson Mandela wat die land se eerste demokraties verkose president geword het.

“’n Skamele byna 30 jaar later voel ’n mens soms ons demokratiese staat kan op 30 dood wees. Dit kan toegeskryf word aan wat gebeur het tydens die presidensiële termyn van Jacob Zuma. Dit was korrupsie op ’n ander vlak, naamlik staatskaping waaroor die Zondo-kommissie pas die laaste verslag uitgereik het. Skokkend, maar nie verbasend nie.”

Wyngaard sê dit is teen hierdie agtergrond dat staatsfunksies toenemend agteruitgegaan het en dat dit in belang van gemeenskappe is dat magte en funksies nou na provinsies afgewentel word.

Van die funksies waaraan die Kaapse Forum aandag gaan gee, is openbare vervoer, hawens, spoorweë, onderwys, gesondheid, howe, landbou, behuising, veiligheid en water- en kragvoorsiening. “Hierdie funksies kan beter deur die provinsie, munisipaliteite en gemeenskappe self vervul word.”

Wyngaard het beklemtoon dat die Kaapse Forum saam met AfriForum en enige ander organisasie of politieke party sal werk. “Die tyd om foute van byna 400 of 40 jaar gelede te herhaal of verwyte rond te slinger is verby. Kom ons werk saam op die gronde waaroor ons saamstem sonder om heeltyd ’n vinger in iemand se oog te wil druk.

“Die klippe wat daar in die verlede na mekaar gegooi is, moet nou omgeskakel word in bakstene waarmee ons mekaar ondersteun. Deur samewerking, wedersydse erkenning en respek kan ons ’n toekoms vir ons kinders skep en nie dieselfde foute as ons voorgeslagte maak nie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê samewerking met die Kaapse Forum vloei voort uit AfriForum se uitgesproke doelwit om gesonde vennootskappe op ’n basis van wedersydse erkenning tussen Afrikaners en die talle ander kultuurgemeenskappe in die land te help vestig.

“Die Kaapse Forum bied aan AfriForum die geleentheid om ’n hand van vriendskap na bruin en ander Kaapse gemeenskappe uit te reik.”

Die direksielede van die Kaapse Forum is ook bekendgemaak. Hulle is:

Maryna Marengo-Barnard, ’n prokureur en oudonderwyser wat haar oor die jare as ’n kultuuropvoeder in Oos-Kaapse plattelandse gemeenskappe onderskei het.

Malixole Gwatyu, ’n media- en kommunikasiekundige.

Carol van der Linde, ’n passievolle strategiese handelsmerk- en kommunikasiebouer met meer as 20 jaar ondervinding in die bemarking- en handelsmerkstrategie-omgewing.

William Sezoe, ’n senior onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch en ’n Afrikaanse taalaktivis.

Jean-Paul (“JP”) Biko Keyter, gemeenskapsleier en produksievervaardiger.

William Waugh, bedryfshoof by die Kaapse Forum.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Om meer oor die Kaapse Forum uit te vind, besoek www.kaapseforum.co.za.

William Waugh, Carol van der Linde, Heinrich Wyngaard, JP Biko Keyter en Kallie Kriel tydens die bekendstelling.

Soortgelyke plasings